Talle vier erfenisdag op unieke wyse met danspassies
Talle inwoners in die streek het die afgelope iangnaweek aan projekte deelgeneem wat die doel van Erfenisdag gevier het.
Erfenisdag is vanjaar op verskeie maniere herdenk en gevier nadat hierdie jaar die belangrikheid van die mens se bestaan in ‘n algehele omwenteling geplaas het.
Verlede jaar het mense in hul hordes in die strate, om braaivleisvure en in parkies en geboue gekuier; vanjaar is die kern daarvan behou en kon sekere aktiwiteite darem steeds plaasvind, maar hierdie keer met die nodige voorsorg soos maskers, veilige afstande en handreinigers.
In Worcester het gemeenskappe in Avianpark, Rivierview en Roodewal hul herkoms, oorsprong en geskiedenis op unieke maniere gevier.
In Avianpark het inwoners van veral Bokmakieriestraat en omliggende strate die Jerusalema-uitdaging aangepak. Dit is egter nie waar dit gestop het nie. Die jeugdiges het talle danse uitgevoer en deur hierdie danse verskeie kulture gevier.
‘n Spesiale Erfenisdag-staptog teen geweld teen vroue en kinders, wat deur die Building Bridges-mentorskapprogram aangebied is, is ook gehou. Dit was ook ‘n bewusmakingsveldtog oor Covid-19 en die gevare rakende die virus. Talle mense het saamgedrom met plakkate om hul stem dik te maak oor geslagsgegronde geweld wat vroue en kinders kniehalter. Die Worcesterse Community Marching Band het ook die verrigtinge vergesel.
In Ashton het die Sinagogo-ontwikkelingsprogram ‘n spesiale dag in hul groentetuine in Zolani aangebied.
Die ontwikkelingsprogram hou ook gereeld op spesiale dae wat herdenk en gevier kan word ‘n byeenkoms of projek vir vroue en kinders in die gemeenskap van Ashton.
Source: Worcester Standard News