Shirley weet sy kan n verskil maak
Standardse Valleier van die maand, Shirley Mangena (48), se haar droom isom’n verskil in die Vallei te maak.
“Ek glo en weet ek kan ‘n verskil maak.”
Shirley is ‘n bekende gesig in De Dooms. Haar huis in Bikostraat staan vir almal oop. Shirley se sy weet van swaarkry en juis daarom wil sy ander mense in haar gemeenskap help.
“Ek het swaar grootgeword,” se Shirley. “My oorlede ouma, Hazel None, wat my op De Dooms grootgemaak het, het my geleer om mededeelsaam te wees. Ek gee nie om om my laaste sent met iemand anders te deel nie.”
In 2014 het sy die Lingelethu-groep gestig. Die groep het aan talentkompetisies deelgeneem en sy het die tieners met dans en sang vermaak. Sy se die kinders in die gemeenskap het gereeld by haar ‘n broodjie gevra en toe begin sy ‘n voedingskema. Sy berei daagliks middagete vir kinders en bejaardes in De Dooms voor. Shirley se sy is nou die stigter van die Change Your Life-groep.
“Ek het die groep begin, want ek wil lewens vir God verander. Ek deel nie net middagetes uit nie, maar tree ook as ‘n mentor op,” se Shirley.
Shirley se sy het baie in haar lewe seergekry. “Ek het deur ‘n egskeiding gegaan en my twee kinders as n enkelma grootgemaak en in September vanjaar het my ouma Hazel, na ‘n siekte, gesterf.”
Shirley het uit haar werk bedank om voltyds haar droom na te jaag. “Ek het nie meer ‘n inkomste nie, maar ek is vasbeslote om aan te hou met my werk in die gemeenskap. Ek sien soms mense met baie geld wat nie bereid is om ander te help nie. Ek sal nie dat omstandighede in my pad staan nie.”
Mense wat graag Shirley se visie ondersteun, is welkom om haar by 060 321 3018 te skakel.
Source: Worcester Standard News