Pumas vermorsel stars
Na ‘n naelbyt-nederlaag in die Rawsonville-distrikte-sokkervereniging (Rodsa) se ligatoernooi verlede week het Young Pumas van Slanghoek die afgelope naweek (Saterdag 9 Oktober) uit die as opgestaan en n punt teen Golden Stars in ‘n wegholoorwinning bewys.
Pumas het sy babelaas van verlede week in die eerste helfte afgeskud en Golden Stars se verdediging begin lastig val. Die algeheel nuwe Young Pumas-span het sy stempel vroeg op die wedstryd afgedruk en die nodige respek van sy opponente gewen deur te wys dat ouderdom net ‘n syfer is. Die meer ervare Goldens moes hul keer ken, want die gate het begin oopgaan. Ettiene Alkaster het sy span se rekening met n klassieke doel geopen. Sy individuele briljantheid was een te veel vir Stars se verdedigers. Ashwell Arendse se vyfster-vertoning is kort daarna beloon met n doel en sy span het 2-0 voorgeloop.
Na rustyd is nuwe lewe in die Pumas geblaas, wat die spel heeltemal oorheers het. Velintino Fortuin het Pumas se telling na 3-0 gerek en die verslaentheid was in Stars se lyftaal te bespeur. Fortuin het sy tweekuns behaal na goeie taktiese spel in die middelveld. Die skrif was reeds aan die muur toe Denzil Jonkers sy span se vyfde doel aanteken. Immaneul Fortuin het verder sout in Golden Stars se wonde gesmeer om die telling 6-0 te maak. Pumas het in die wedstryd bewys dat hy ‘n sterk aanspraakmaker is om in die top-5 van die kompetisie te eindig.
Golden Stars se troosdoel is in die 81ste minuut aangeteken nadat Pumas oorgerus geraak het.
Young Pumas se naasbestes het hul ewekniee 3-1 geklop.