Krieketklub se truie ingeseen
View Pro-krieketklub het sy nuwe uitrustings laat inseen. Die bestuur en spelers het die afgelope maande baie hard gewerk om nuwe T-hemde te bekom.
Die spelers sal binnekort hul broeke en pette ontvang.
Groot opgewondenheid het geheers toe Leon Hermanus, die klub se voorsitter, die nuwe truie oorhandig het. Wat baie ooglopend was, was dat hierdie jong klub regtig baie gou opgang gemaak het en pronk as een van die min klubs wat twee spanne in die Riverview-vlakkiekriekettoernooi kon registreer.
Hulle pronk ook met goeie leiers wat in n kort tydjie alle verwagtinge oorskry het. Die klub se slagspreuk spreek daarvan dat hulle Riverview ‘n beter woonbuurt wil maak en ‘n goeie atmosfeer wil skep waar die jeug hul talente ten voile kan uitleef en om goeie kinders vir die gemeenskap groot te maak.
Die kleure wat die klub gekies het, is wat Riverview se mense elke dag sien en ook die kleure van die skool uitbeeld en met Riverview geassosieer word.
Hulle het almal wat hulle goedgesind is en finansieel ondersteun, bedank, “want sonder julle sou dit nie moontlik gewees het nie”. Hulle het groot planne vir die toekoms en omdat die meeste van die kinders se ouers van n staatstoelae leef, vra die klub dat enigeen wat kan, hulle met uitrusting of geld sal ondersteun.
Die klub is ook besig om sy eie netbal- en sokkerspan onder die vaandel van View Pro te begin. Die doel is om die jeug besig te hou wanneer die krieketseisoen eindig. Hulle beplan verder om wedstryde buite Worcester te reel om meer sportbande te smee.
Wilfred September, die skakelbeampte, het dit duidelik aan spelers gestel dat die trui met die nodige respek en trots hanteer moet word, en dat skuldiges die gevolge sal dra vir misbruik van die uitrusting.