Kleuterskool is meer as net ‘n werk dis om ‘n verskil te maak
‘n Volgehoue passie vir kinders, ‘n see vol geduld, deursettingsvermoe wat nie ‘n ver-valdatum het nie en ‘n hemelruim vol liefde. Dit is die resep om ‘n kleuterskool te begin – en dit is alles wat sy het.
Die 49-jarige Johanna Solomon of “Juffrou Hannie” soos sy in haar woonbuurt in Topkamp in Touwsrivier bekendstaan, het jare gelede besluit om ‘n kleuterskool te bou sodat sy na kleuters na skool kan omsien. Vandag bestaan Emmanuel Educare al vyfjaar.
“Ek het die behoefte in my woonbuurt, waar geen kleuterskool was nie, gesien en kon dit nie hanteer hoe kleuters in die strate sonder toesig speel nie. Ek het my besluit om ‘n kleuterskool te begin eerste na die Here geneem omdat ek geen geld gehad het om dit te begin nie. Al wat ek in my bankrekening gehad het, was R50,” vertel Johanna.
Johanna, die tweede jongste kind van ses dogters, is op ‘n plaas langs die N1 in Touwsrivier gebore en kon nie haar matriek voltooi nie. “My ma moes ons met n maatskaplike toelaag grootmaak,” se sy. Sy het haar skoolloopbaan by Hoerskool De Kruine in Touwsrivier tot graad 11 voltooi.
“Ek kon nie my matriek doen nie, want ek was reeds 18 jaar oud en my all pay was gestop. Noodgedwonge moes ek skool verlaat omdat daar geen ander inkomste in ons huis was nie,” voeg sy by.
Die moeilike omstandighede wat Johanna getref het, het haar nie gekeer om haar liefde en passie vir kinders uit te leef nie. Sy het lank as ‘n vrywilliger by ‘n kleuterskool gewerk en het later aansoek by ‘n laerskool as ‘n skoonmaker gedoen. “Daar het my begeerte om met kinders te werk nog groter geword,” se sy.
Sy het haar matriek by Adult Basic Education and Training (ABET) voltooi en in 2017 het sy haar diploma in vroeekinderontwikkeling L5 by Boland Kollege in Worcester voltooi.
Volgens Johanna het sy, nadat sy haar werk as skoonmaker bedank het, prakties by dieselfde kleuterskool gedoen waar sy vir jare as vrywilliger gewerk het.
Johanna se sy het geen geld gehad om ‘n gebou te huur nie en sy het toe vier vertrekke van haar huis afgestaan en laat registreer en Emmanuael Educare Touwsrivier begin.
“Ek het eers met 20 kleuters begin, maar die behoefte vir meer plek het later groter geword. Ek het boumateriaal gesoek en ‘n struktuur in my agterplaas opgerig wat ek as kleuterskool gebruik het. Ek het dit laat registreer en vandag kyk ek en nog vyf vroue na 50 minderbevoorregte kleuters,” se sy. Vir ‘n jaar en ‘n half het sy en haar twee assistente sonder vergoeding na ander ma’s se kinders gekyk.
Volgens haar het sy dit gedoen, “want liefde vir kinders kan nie aan geld gemeet word nie”.
Omdat die struktuur baie koud in die winter is, wil sy graag ‘n kleuterskool bou om die kinders se lewenstandaard te verbeter. “Dis my visie om ons leiers van more plek te gee waar hulle kan ontwikkel. Dit kan gedoen word deur die hulp van Bo en die harte van mense. Onsverskyn 22 Julie om 18:00 op Kwela kanaal 144,” se sy.
Source: Worcester Standard News