Golden stars en Pumas gelykop
Golden Stars en Young Pumas het Saterdag 24 Julie op Holland-plaas bewys dat albei ernstige aanspraakmakers is op die Rawsonville- en distrikte- sokkervereniging se ligatitel na hul gelykopuitslag.
Young Pumas het met ‘n half gelaaide geweer opgedaag, want sleutelspelers moes hul werkverpligtinge nakom. Golden Stars het op sy tuisveld net goeie sokker opgelewer, want die tafel was gedek vir ‘n vuurwarm wedstryd. Die Stars-doelskieters het van meet af die spoed van die wedstryd bepaal deur aanhoudende aanvalle na die Puma-doelhok te mik. Jonathan Thomas het in die 28ste minuut sy staal gewys deur Pumas se nette te laat raas met ‘n riller-bal. Pumas het, na sy vinnige doel, sy formaat verander en dit het vrugte afgewerp, want die manne was daarna rotsvas. Stars het kort daarna pogings gehad, maar het nie juis vir Pumas laat bewe nie. Pumas moes met nege spelers klaarkom, maar Golden Stars kon nie die situasie uitbuit nie. Die deursettingsvermoe wat Pumas in die wedstryd gewys het, was ‘n verrassing.
Golden Stars het in die tweede helfte balbesit oorheers en baie doelgeleenthede geskep. Young Pumas het karakter getoon met rotsvaste verdediging.
Pumas het sy angel in die vorm van Emile Claasen gewys met ‘n dryfskoot wat die Stars-verdedigers laat stilstaan.
Die telling was 1 elk.
Saul Bosman, Stars-afrigter, het kort daarna genoem dat sy span op die dag as tweede beste span teen ‘n goeie Pumas-span was.
Young Pumas se naasbestes wen 4-0 teen Stars. Jonathan Thomas was die speler van die dag.