Buitensporige Heffings op Koopkrag
Buitensporige Heffings op Koopkrag
Wellington / Paarl inwoners en organisasies
Soos baie van u seker teen hierdie tyd bewus is, en ander nog met skok sal agterkom, is daar ‘n “heffing” geplaas op die aankoop van krag op die voorafbetaalde koopkrag stelsel deur die Drakenstein Munisipaliteit. Groot was my verbasing toe ek die afgelope week R500.00 krag aankoop en agtergekom het dat daar nie net ‘n aansienlike verhoging in die tarief van die krag per eenheid was nie, ek moes ook ‘n bedrag van R45.00 betaal wat net aangedui word as “Charges”. Volgens die eienaar van die besigheid waar ek dit aangekoop het, was die “Charges” vir die huur van die kragmeter. Dit is nou dieselfde kragmeter wat ek ‘n paar jaar gelede moes “koop en betaal”.
Tydens ‘n vergadering waar lede van die Munisipale Raad teenwoordig was, was daar deur laasgenoemde verduidelik dat die addisionele heffing in plek gesit is vir die “instandhouding van die infrastruktuur “. Dit het egter ook nie sin gemaak nie, want ons as belastingbetalers betaal reeds verskeie ander belastings om hierdie infrastruktuur in stand te hou, hoekom moet ‘n addisionele belasting ingestel word.
So gaan ek na die Belastingbetalers vereniging van die Paarl waar die “Executive Director: Finance of Drakenstein Municipality”, mnr. Jacques Carstens antwoorde sou verskaf t.o.v. van hierdie en ander kwessies. Die enigste antwoord / verduideliking wat egter gegee is, was dat die ander mense (ek neem aan dit is mense wat nie koopkrag eenhede het nie, maar aan wie rekeninge voorsien word), reeds ‘n geruime tyd ‘n heffing betaal. Hy het egter nagelaat om te noem dat krag wat vooraf gekoop word vir koopkrag eenhede, duurder is per eenheid as die daarsonder en soos ‘n amptenaar van die Munisipaliteit aan my verduidelik het (‘n jaar of wat gelede), was daardie “heffing” juis ingestel omdat daardie gebruikers nie koopkrag eenhede het nie, en rekeninge uitgestuur moet word. Wat mnr. Carstens wel gesê het wat baie kommerwekkend is, is dat hierdie “heffing” volgende jaar nog duurder gaan wees.
Aangesien ek tot dusvêr geen amptelike korrespondensie van die Munisipaliteit in hierdie verband ontvang het nie (ten spyte van die feit dat ek maandeliks ‘n munisipale rekening ontvang) moes ek tot dusver staatmaak op tweedehandse inligting. Volgens laasgenoemde gaan die huur / heffing R6.06 per dag beloop al koop jy geen krag nie. Wat beteken dat ons maandeliks R187.86 sal moet betaal voor jy kan krag koop, of anders gestel, al gebruik jy jou kragmeter glad nie gedurende die jaar nie, gaan jy R2211.09 per jaar betaal alvorens jy enige krag kan koop.
Die vraag is dan:
1. Dink jy hierdie addisionele vorm van belasting, bo en behalwe die verhoging van elektrisiteitstariewe is geregverdig?
2. Was enige inwoner vooraf in kennis gestel of bewus dat hierdie kunsmatige verhoging van elektrisiteitstariewe gaan plaasvind?
3. Dink jy dit is regverdig dat mense wat hulle krag vooruit betaal, gepenaliseer moet word deur die Munisipaliteit?
4. Watter stappe dink jy moet ons as inwoners volg om dit aan te spreek en sal jy bereid wees om aan ‘n petisie veldtog deel te neem om dit te stop?
5. Watter invloed gaan hierdie en toekomstige verhogings van die “heffing” op jou en ander mense in jou omgewing se begroting hê?
Volgens Drakenstein Munisipaliteit se statistiek maak die verkope van krag reeds 51.4% (R679.9m) uit van hulle bestaande inkomste. ‘n Verhoging van 13.03% is voorgestel in elektrisiteitstariewe vir 2012 /2013 boekjaar (dit is bo en behalwe die nuwe heffing wat gehef word en toekomstige verhogings van hierdie heffing)
Wat egter meer kommerwekkend is, is dat 24.7% van die inwoners binne hierdie Munisipale area minder as R42 000,00 per jaar verdien en 37.4% tussen R42 000.00 en R132 000.00 per jaar. Dit is in totaal 62.1% volgens die Munisipaliteit se eie statistiek en as in ag geneem word dat die werkloosheid syfer 14.1% is lyk die prentjie nog donkerder.
Ek wil ‘n dringende beroep doen op elke persoon wat hierdie e-pos ontvang en lees om daarop kommentaar te lewer en nie net te aanvaar dat iemand anders dit namens jou gaan doen nie. Stuur dit asb. aan na al jou vriende, kolegas, werknemers, kerklidmate en ander mense in jou area.
Selfs die wat nie oor ‘n e-pos adres beskik nie. Laastens wil ek net die volgende noem om oor na te dink. Daar is ongelooflik baie mense binne hierdie Munisipale Area wat net bo die broodlyn leef en weens ‘n sukkelende ekonomie, letterlik van maand tot maand sukkel om te oorleef. Mense wat baie dae geen kos in die huis het om te eet nie en ‘n gevaar staan om hulle huise te verloor. Mense wat vir jare gewerk het om ‘n dak oor hulle kop te hê en wat weens die lae rente koerse feitlik geen inkomste uit hulle beleggings kry nie. Ander wat met ‘n ouderdomspensioen van R1300.00 per maand moet probeer oorleef. Mense wat skaars die huur van hulle wonings kan bekostig.
Daar is reeds geen gelde vir luukshede nie en enige addisionele uitgawes sal bloot beteken dat daar minder kos en ander basiese noodsaaklikhede in die huis gaan wees. Volgens Munisipale amptenare kan mense wat sukkel om hierdie die addisionele belasting te bekostig aansoek doen om kwytskelding, maar moet dan bereid wees om ‘n verlaagde kragbreker in hulle wonings te installeer wat sal beteken dat toerusting soos vrieskaste ens. nie gebruik sal kan word nie.
Alle e-posse en skrywes wat in reaksie ontvang word, sal aan die Munisipale bestuurder, Die hoof van Finansies en die Burgemeester van Drakenstein munisipaliteit gestuur word. Diegene wat nie oor ‘n e-pos of internet beskik nie, kan my skakel by 082 853 2827 en reëlings sal getref word om geskrewe vertoë so spoedig moontlik by ‘n sentrale punt af te haal.
U betrokkenheid en spoedige terugvoer sal opreg waardeer word.
Attie Barnard
Inwoner en Belastingbetaler
Drakenstein Munisipaliteit