Man van Bela-Bela slagoffer van bankkaartbedrog
’n Ekonomiese ontwikkelingsbestuurder van Bela-Bela is die slagoffer van bankkaartbedrieërs wat toegang tot sy bankrekening verkry het deur middel van ’n bedrogskema.
Sephalo Mokgohloa het aan Die Pos vertel dat hy ’n SMS ontvang het wat gelui het dat sy bankkaartdienste verval het en dat ’n konsultant hom binnekort gaan bel. Ná die SMS het hy ’n oproep ontvang van ’n man wat gesê het hy is van Capitec-bank. Hy het Mokgohloa se besonderhede gevra om kastig sy bankrekening te verifieer. Die man het Mokgohloa se ID-nommer gevra, sy bankrekeningnommer, asook sy wagwoord.
Ná ongeveer vyf minute, terwyl Mokgohloa nog met die man gepraat het, het sy selfoon gevries en die oproep is beëindig. Mokgohloa het nie veel daarvan gedink nie en het aangeneem daar is iets fout met sy foon. Die volgende dag wou hy sy sim-kaart laat verander.
Toe hy kort daarna geld wou onttrek, was daar geen fondse in sy rekening beskikbaar nie.
Mokgohloa het die saak met Capitec opgeneem, en hulle het bevestig dat hy ’n slagoffer was van ’n bankkaartbedrogskema.
Die skurke het glo die geld onttrek en dit na ’n begunstigde-rekening oorgeplaas by dieselfde bank.
Teen die tyd dat die bank agtergekom het daar is bedrog ter sprake, was al die fondse wat oorgeplaas is uit sy rekening, reeds onttrek.
Dit word as nalatigheid beskou dat Mokgohloa sy persoonlike inligting verskaf het aan die persoon wat hom gebel het, en daarom kon Capitec nie die gesteelde geld aan hom terugbesorg nie.
Hy het ’n klag gelê by die Bela-Bela-polisiestasie en het die saak verder opgeneem met die ombudsman vir bankdienste.
Die ombudsman vir bankdienste, adv. Clive Pillay, het by navraag aan Die Pos gesê dat ’n bank wel gesteelde geld sal terugbetaal, afhangende van die omstandighede van elke saak.
“Elke saak is anders, so dit is moeilik om ’n reguit antwoord te gee rondom elke omstandigheid,” sê Pillay.
In 2011 het die ombudsman net uit Limpopo 342 klagtes van kaartbedrog ontvang. In 2012 was dit 336 klagtes.
Pillay het bygevoeg dat Limpopo se kaartbedrogsake net 1% uitmaak van alle klagtes in die land. Pillay stel die volgende voorsorgmaatreëls voor:
- Moet nooit die kaart onder jou oë laat uitgaan wanneer jy betalings doen nie.
- Rapporteer en kyk uit vir verdagte mense wanneer hul kaarte by toonbanke skandeer.
- Moet nooit hulp van vreemdes by kitsbanke aanvaar nie.
- Ken jou bank se kitsbank. Maak seker daar is geen vreemde toestelle of voorwerpe wat vasgeheg is aan enige kitsbank nie. Rapporteer dit aan die bank.
- Moet nooit ’n kitsbank gebruik wat sigbaar beskadig is of waarmee gepeuter is nie. Dit mag dalk ’n bedrogskema wees wat maak dat die persoon ’n ander nabygeleë kitsbank moet gebruik waaraan ’n toestel gekoppel is wat bankbesonderhede kopieer.
- Rapporteer verdagte mense wat by kitsbanke rondhang.
- Gaan bankstrokies na vir enige verdagte transaksies.
- Moenie bankkaarte of -besonderhede laat rondlê nie en moenie ander toelaat om jou bankkaart te gebruik nie.
- Hou die wagwoord (PIN) van jou kaart geheim.
- Wanneer jy aanlyn inkopies doen, plaas bestelling slegs op veilige en vertroulike webtuistes.
- Moet glad nie e-posse stuur waarop jou bankkaartnommer, vervaldatums of enige ander besonderhede op is nie.
- Rapporteer enige onreëlmatighede op jou bankstate aan jou bank sodra jy dit opmerk..