Drakensberg-seunskoor sing vir Dean
Dean Cronjé, oud-Warrie wat vroeër vanjaar in ’n ernstige motorongeluk beseer is, vorder goed met sy rehabilitasie-proses.
Dean en sy ouers, André en Lillian Cronjé, was op Dinsdag, 30 April, buite Villiers in die Vrystaat in ’n botsing betrokke met die toerbus van die Drakensberg Seunskool, waar Dean deesdae ’n leerder is.
Dean het saam met sy ouers in hul eie voertuig na Emperor’s Palace in Johannesburg gery om saam met sy klasmaats saam met die bekende sangeres, Jennifer Rush, op te tree.
’n Verrassing het op Dean gewag toe die seuns van dié wêreldbekende koor op Donderdag, 13 Junie, vir hom kom kuier het by die rehabilitasiesentrum waar hy tans aansterk.
Hulle het vir hom gesing en hom voorspoed toegewens.
Volgens ma Lillian word Dean tans by die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Johannesburg versorg.
“Hy is vir 12 weke ingeboek by die sentrum, maar hy kan dalk vroeër uitkom,” het sy aan Die Pos gesê. Sy het gesê dat sy baie verlig is oor Dean se toestand en nie meer kan wag dat “hierdie hele storie” verby is nie.
Dean is volgens haar nog nie reg om skool toe gaan nie, weens die breinskade wat hy in die ongeluk op-gedoen het. Sy sê egter dat sy brein en langtermyngeheue aan die herstel is en dat hulle glo hy sal ten volle herstel.
Pa André is reeds terug op Bela-Bela en aan die werk. Lillian het besluit om in Johannesburg agter te bly om by Dean te wees. Sy kom net af en toe Bela-Bela toe. “Die kostes van hierdie storie raak effe baie en dit is net my man wat tans werk. Daar is rekeninge om te betaal,” het sy gesê.
Oor die bystandfonds wat vir die gesin op Bela-Bela gestig is, is sy baie dankbaar.
Sy het gesê dat sy beoog om aanstaande week na Bela-Bela terug te keer om op hoogte te kom van dié fonds. Sy het gesê dat die fonds die gesin tot dusver baie uitgehelp het.
“Ons moet maar aanhou en uithou,” het sy moedig gesê.
Artikel: Die Pos
Bron: Die Pos