Die Vredefortkoepel bied ‘n unieke geleentheid aan elke besoeker om die geskiedenis van ons planeet oor duisende jare waar te neem, asook die vernietigende kragte van die natuur wat ons wêreld gevorm het soos ons dit vandag ken. Dit is ook ‘n plek van asemrowende natuurskoon.

Saamgestel deur prof. Roger Gibson verbonde aan die Wits Universiteit se Departement vir Geowetenskappe

Behalwe vir die ongewone gesteentes in die koepel, is die area ook van groot historiese, kulturele en aregeologiese belang. Of dit nou wetenskaplike, historiese of kulturele belang, ekotoerisme of avontuurlustigheid is, die Vredefortkoepel het iets spesiaals om te bied aan elke besoeker.

Waar presies is die Erfenisgebied?

Slegs ‘n klein gedeelte van die Vredefortkoepel langs die Vaalrivier (tussen die Parys-Potchefstroom en Vredefort-Potchefstroom paaie is as erfenisgebied verklaar hoewel tekens van die impak oor ‘n baie groter gebied waargeneem kan word.

Omdat hierdie ‘n bewaringsgebied is, moet inwoners vir spesiale toestemming aansoek doen om enige nuwe huise, paaie of heinings op te rig.

Die Vredefort impakkrater

Die meteorietimpak wat in die Vrystaat plaasgevind het, het ‘n krater van sowat 300km in deursneë gelaat (d.w.s vanaf Johannesburg tot by Welkom).

Dit is die grootste meteorietimpak wat nog ooit deur geoloë op die aarde gevind is, en dit is ongeveer twee keer so groot as die impak wat die dinosaurusse 65 miljoen jaar gelede uitgewis het.

Om hierdie rede is die gebied van groot belang vir wetenskaplikes.

Dit is ook die oudste impakkrater ter wêreld.

Dit is hoofsaaklik om hierdie redes dat dit as ‘n wêrelderfenisgebied verklaar is.

Plaaslike en internasionale geoloë bestudeer reeds vir baie dekades hierdie gebied met sy gebroke en gesmelte rotse om hierdie gebeurtenis beter te probeer verstaan.  Hierdie is hulle bevindings:

  1. Die impak het sowat 2023 miljoen jaar gelede plaasgevind toe daar geen mens, dier of plant was soos ons dit vandag ken nie. Die enigste lewende organismes was ‘n tipe alg, net soos die groen alge wat vandag in waterliggame gevind word.
  2.  Om ‘n krater van 300km wyd te veroorsaak moes die meteoriet ongeveer 10km in deursneë gewees (so groot soos ‘n berg), en die aarde teen ten minste 10km per sekonde (36 000 km/h genader het.
  3. Die Vredefortkoepel is slegs die middelste gedeelte van die impakkrater. Dit word ‘n koepel genoem omdat die rotslae deur die impak in die vorm van ‘n onderstebo poedingbakkie gebuig is. Die koepel is sowat 90km in deursneë.
Gebeure na die impak

In geheel het die Vredefortimpak waarskynlik minder as ‘n minuut geduur hoewel die gesmelte rots miljoene jare sou geneem het om af te koel en weer soliede rots te vorm.

Vir ‘n tyd sou dit na ‘n krater op die maanoppervlak gelykhet. Oor honderde miljoene jare het riviere erosie veroorsaak wat die kante van die krater en die meeste van die afgekoelde, gesmelte rots verweer het.

Die rots wat nou sigbaar is het op ‘n tyd onder die kragter gelê.

In die middel van die krater (die Vredefortkoepel), is daar steeds tekens van die splintering en versmelting van die rots wat deur die impak veroorsaak is.

Deur  Liezl Scheepers en het oorspronklik in die Parys Gazette verskyn.