Vaal Voël Klub / Vaal Bird Club
Die Vaal Voëlklub/Vaal Bird Club bestaan (reeds sedert 1991) uit ‘n groep entoesiastiese voëlkykers, van oud na jonk en van beginners tot mense wat al jare lank wilde voëls bestudeer. Kundigheid word graag gedeel.
Ons vergader elke tweede Maandagaand van die maand om 19h00 by die Ou Mutualgebou in Vanderbijlpark. Geïllustreerde praatjies oor voëls word op die vergaderings aangebied. Die sekretaresse stuur kennisgewings van die vergaderings aan lede en ook aan ‘n lang lys belangstellendes. Die vergaderings word ook in die STER bekendgestel.
Voëlkyk uitstappies word een keer ‘n maand, op die Saterdag net na die praatjie, gehou. Ons besoek plekke soos Koppiesdam, die Ekopark in Vaalpark, Boschenvaal, Suikerboschrand, Marievale, die Vaaldam, die Vredefortkoepel, Vredefortdam en Klipriviersberg. Langer uitstappies, soos na Wakkerstroom, word ook gereël.
Die klub reël twee keer ‘n jaar ‘n voëltelling (CWAC) op die Vaalrivier. Hierdie geleentheid word deur Stonehaven-on-Vaal geborg. Die klub, met Stonehaven-on-Vaal as die inisieerder en organiseerder, is ook betrokke by ‘n voëltoer op die Vaalrivier en die Taaibosspruit.
Voëllyste word bygehou en kort kursusse met betrekking tot voëls word gereël. Daar is meerdere uitstekende voëlfotograwe in die klub en baie ervare voëlringers wat al meer as dertig jaar lank voëls in die Vanderbijlpark-omgewing ring en bestudeer.
Die Vaal Voëklub bestaan tans uit 64 lede. Die huidige president van die klub is John Bradshaw en die Voorsitter is Reg Gersbach. Sonder die ondersteuning van Stonehaven-on-Vaal en die Ou Mutual Vanderbijlpark, sal die klub se aktiwiteite nie so glad kan verloop nie.
Gaste is altyd welkom by die klubvergadering en op uitstappies. Indien daar besoekers is aan die Vaaldriehoek kan hulle vir advies aanklop van waar om voëls te kyk in die omgewing.
Vir meer informasie maak gerus kontak met die Klub Sekretaresse, Rina De Klerk: deklerkr@telkomsa.net