Rioolvuil stoot in erwe op, munisipaliteit doen glo niks
VEREENIGING. – Inwoners van Arcon Park moet glo moedeloos toekyk hoe rioolvuil in hul in hulle erwe in opstoot terwyl die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit glo niks doen om hulle te help nie.
Colin Orr, ’n inwoner van Disastraat in Arcon Park, sê die hoofdrein in die omgewing het op Saterdag 1 Augustus verstop geraak en dat die probleem reeds aangemeld is. Ten spyte daarvan is niks aan die probleem gedoen nie.
“Die rioolvuil is nou besig om in ons erwe in te loop. Ons het iemand nodig wat ons kan help. As jy die munisipaliteit bel wag jy vir 20 minute en niemand antwoord die foon nie. Waar moet ons dit aanmeld? Is daar ’n alternatiewe nommer?,” wou hy weet.
Volgens Orr het hulle ook vir rdl. Elize Aucamp, raadslid van wyk 45, gevra om te help.
Aucamp het by navraag gesê: “As raadslid kan ek vir jou sê dat Emfuleni se inwoners in die riool verdrink en die munisipaliteit geen poging aanwend om dit te herstel nie.
“Die munisipale bestuurder se antwoord op raadslede se versoeke wissel van ‘noted’ tot ‘I will forward it,’” vertel Aucamp.
Volgens Aucamp is daar talle rioolprobleme in Arconpark en Duncanville.
“Volgens die terugvoering wat ons kry word ’n hoëdruk masjien benodig om die dreine skoon te maak maar die munisipaliteit het tans nie een beskikbaar nie,” verduidelik sy.
*Vaalweekblad is onlangs oorval met klagtes van mense in ander woonbuurte, soos die middestad, Leeuhof, Peacehaven en Drie Riviere wat met dieselfde probleem sit.
Deur Christiaan Cloete en oorspronklik in die Vaalweekblad gepubliseer