Twee in ’n ry vir Blitsbokke by Spele
Ten spyte van ’n paar terugslae het die Blitsbokke heel skaflik in die openingrondes van hul Olimpiese Spele-veldtog gevaar.
Die Suid-Afrikaanse sewessterre het vanoggend met Ierland (33-14) afgereken, terwyl hulle pas met Kenia klaargespeel het.
Siviwe Soyizwapi se span het twee drieë gedruk om die kragmeting met 14-5 te wen.
Ná ’n blink begin het hulle effens stoom in die tweede helfte verloor. Tog het hul rotsvaste verdediging die wedstryd vir hulle beklink.
Oudergewoonte het die veel kleiner Suid-Afrikaners vir niemand op die veld teruggestaan nie. Dit is juis hierdie vreesloosheid – gepaard met hul vlugvoetigheid – wat vir hul sukses op die internasionale verhoog verantwoordelik is.
’n Speler soos Branco du Preez staan byvoorbeeld net 1,72 m in sy sokkies, terwyl hy net meer as 70 kg weeg.
“Ons werk besonder hard aan die fisieke kant van die spel, maar ek hou daarvan om te dink dat veelsydigheid ons sterk punt is – veral as jy na kreatiewe spelers soos Justin Geduld en Selvyn Davids kyk,” het Neil Powell, die afrigter, al gesê.
En veelsydigheid kan hopelik vir ’n goue medalje sorg.
- Driedrukkers teen Kenia: Selvyn Davids en Shakes Soyizwapi.
- Die span speel môre in die laaste groepwedstryd teen die VSA.
Artikel deur Johann Gresse en oorspronklik in Maroela Media verskyn