Skenkernier: Genadepad vir sanger Adam
Dit gaan beter met sanger Adam Barnard. Nadat nierversaking in 2016 by die eertydse Romanz-sanger gediagnoseer is, het dié Parysenaar ’n paar berge gehad om te versit. En nou, bykans twee jaar later, is daar ’n skenkernier vir Adam beskikbaar.
Voorbereiding en toetse vir die nieroorplanting word tans gedoen, maar dit is ’n tydsame proses wat nog ’n paar maande kan neem. Die datum vir die oorplanting sal eers bekend wees sodra al die toetse gedoen is.
Adam is op die waglys vir ’n “publieke” skenker, maar dié lys is baie lank en kan jare neem. Tyd wat Adam nie het nie. Daarom dat daar soveel dankbaarheid is oor die lewende skenker wat na vore gekom het. Nou word daar saam met die nefroloog gewerk om alle toetse gedoen te kry, waarna dit aan die Mediese Raad voorgelê sal word vir goedkeuring alvorens die operasie gedoen kan word.
Naas nierversaking is Adam vroeër vanjaar met neuropatie gediagnoseer – ’n siekte wat jou senuweestelsel aantas en verdoof sodat jy gevoel in jou ledemate verloor. Vir Adam is dit 100% geneesbaar as daar vinnig gereageer word en die korrekte behandeling gegee word. Korrekte dialise speel ’n groot rol.
Adam kry tans agt ure lank dialise drie keer per week. Die langer dialise help om die neuropatie teen te werk wat hom van ’n rolstoel afhanklik gemaak het. Vroeër het Adam vyf uur lange dialise sessies gekry.
Nou gaan dit egter al baie beter met Adam.