Sebokeng-hospitaal nagmerrie!!
VANDERBIJLPARK – Die 51-jarige Vaaldriehoeker Hettie Vorster is deur hel by die Sebokeng-hospitaal. ‘n Hartverskeurende video waarin sy in trane om hulp smeek het groot reaksie uitgelok nadat dit op Rea Thusa/We Help se Facebookblad gedeel is.
In die video word beweer dat sy vyf dae lank sonder enige voeding moes klaarkom terwyl sy in ongevalle gewag het om opgeneem te word. “Sy kon nie kos inhou nie en hulle het ook nie vir haar op ‘n drup gesit nie.
Sy is op doeke en as sy vir ‘n nuwe een gevra het, het die personeel vir haar gelag,” het Vorster se suster Mary-Jane Stroh vertel. Vorster het in September 2022 ‘n kolostomie-omseilings (bypass) operasie ondergaan, maar weens komplikasies het sy ‘n ernstige blaasprobleem ontwikkel.
Sy het op 28 September 2023 ‘n skandering ondergaan en sou twee dae later opgeneem word vir ‘n urostomiesak operasie, maar dit is uitgestel omdat daar glo nie ‘n bed vir haar in die intensiewe sorgeenheid sou wees nie.
“Sy is sedertdien op doeke en kan nie eers kerk toe gaan nie. Sy het geen beheer oor haar blaas nie. Haar menswees en selfvertroue ly daaronder.
My sussie is ‘n positiewe en onafhanklike mens. Om haar so te sien breek mens.” Vorster spook nou al ‘n jaar om ‘n datum vir haar operasie te bevestig.
Haar opname wat vir 30 September 2023, 17 Oktober 2023, 23 Januarie 2024, 28 Mei 2024, 2 Julie 2024 geskeduleer was, is telkens uitgestel.
Na die video deur Virginia Keppler-Young, hoof-uitvoerende beampte van Rea Thusa/We help gepubliseer is, is Vorster na ‘n ander saal verplaas waar sy behandeling kry.
“Dit is net deur God dat ons as Rea Thusa/We Help oorloë vir ons mense teen die gesondheidsdepartement sal wen.
Ons hou Hettie in ons gebede,” het Virginia gesê. Vorster het intussen bloedklonte in haar bene ontwikkel en het helaas ook behandeling hiervoor ontvang met die gevolg dat sy nie enige operasie sal kan ondergaan totdat die toestand verbeter het nie.
Of, klik HIER om video te kyk.
Woordvoerder van die Sebokenghospitaal, Lerato Sedulawesi, het ontvangs van Vaalweekblad se navrae rondom die saak erken, maar teen druktyd nie amptelik gereageer nie.
Deur Ettienne van Rensburg en het oorspronklik in die Vaalweekblad verskyn