Daar moes na regte vier pompstasies wees, maar weens ELM se geldgebrek, was Pomstasie 2 die enigste werkende pomp … wat natuurlik ooreis en uiteindelik uitgebrand het. Nou loop Vereeniging, Peacehaven, Arconpark, Waldrif, Sonlandpark, Drie Riviere, Risiville Vanderbjilpark (hele Emfuleni- streek) se riool direk na die Vaalrivier.
In Vanderbijlpark gaan dit net so sleg. Die hele Vanderbjilpark en Vaal Mall-area loop na die Rietspruit-waterwerke wat staan weens kabeldiefstal. R42 ( Alex Roadhouse) se rioolpyp het reeds twee jare gelede ingeval. Geen riool loop soos dit veronderstel is na die Rietspruit-waterwerke nie. Die Emerald Casino Rivier-pompstasie kry die bo-dorp se riool (S-areas) en al hierdie riool moet na regte na die Rivierpompstasie gaan. Al die riool loop tans direk in die Vaalrivier in. Na drie intervensies vanaf Gauteng Provinsie om Emfuleni te probeer red is dié ramp nou die uiteinde.
Oorspronklik in die Vaalweekblad gepubliseer