‘Het die mense van Sharpville en Boipatong verniet gesterf?’ vra Maimane
Die voormalige opposisieleier Mmusi Maimane (nou leier van die One South Africa Movement) het Woensdag (16 September 2021) Sebokeng besoek om die New Horizon Movement se burgemeesterskandidaat bekend te stel.
Maimane het in sy toespraak voor ‘n groep mense verwys na die Sharpville-slagting (21 Maart 1960) en die Boipatong-slagting (17 Junie 1992).
“Dit is hier (in die Vaaldriehoek) waar die verandering begin het. Mens kan nie help om jouself af te vra of die dood van so baie mense (tydens die slagtings van Sharpville en Boipatong) die moeite werd was nie.
As jy nou om jou kyk sien jy dat vryheid uitgestel is.”
“Vandag is ek bly dat (danksy daai mense se opoffering) ek vry kan rondloop. Maar ter ere van die mense wat gesterf het moet ons voortgaan om in ‘n vooruitstrewende Emfuleni met basiese dienste vir die mense te bly,” het Maimane gesê.
Maimane het later vir eerw. Vincent Jones as die New Horizon Movement se burgemeesterskandidaat aangekondig. Maimane het sy steun aan dié beweging toegesê.
Die New Horizon Movement is ‘n nuwe beweging wat aan die plaaslike regeringsverkiesing gaan deelneem.
Hulle het kandidate in al 45 wyke van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit. Tersia Venter, kandidaat vir wyk 1 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (Drie Riviere), het tydens ‘n kort toespraak gesê dat die mense van Emfuleni vir lank genoeg geminag is.
Sy het ook gevra waarom mense altyd moet betoog om die dienste te ontvang waarop hulle geregtig is.
“Dit is tyd dat ons ons waardigheid terugneem. Julle moet stem vir ‘n onafhanklike beweging soos New Horizon Movement. Ons sal die mense dien. Die mense sal nie vir ons dien nie,” het Venter gesê.
Deur