Voetspore
In sy brief aan Frodo in The Fellowship of the ring deur J.R.R. Tolkien, skryf Gandalf: “Nie alles wat goud is blink nie, en nie almal wat rondswerf het verdwaal nie.” Frodo praat seker hier van Johan Badenhorst en sy span wat ewig aan’t swerwe is en die een na die ander interessante bestemming besoek in die reeks Voetspore. ʼn Splinternuwe reeks, Voetspore: Zambezi, het op Sondagaand 7 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) afgeskop. In hierdie reis gaan kyk die span na die oorsprong van die magtige Zambezi-rivier en dan volg hulle die vloei daarvan deur die Afrikalandskap. Van die plekke wat die span besoek is Lukulu waar hulle by Matoya gaan tiervis vang, die Liuwa-vlaktes, die Victoria-waterval of Mosi-oa-Tunya, soos die plaaslike inwoners daarna verwys, die Karibameer en Cahora Bassa.
Nie net sien ʼn mens wonderlike landskappe nie, maar met die reeks word kykers ook blootgestel aan interessante kulture en van die beste natuurlewe wat die Afrikakontinent bied. Die Voetspore-span bestaan uit Johan Badenhorst, Norbert Coetzee, Stefan Sonnekus, Francois Marais, en Johan se twee kinders, Nina en Streicher. Skakel op Sondagaande in en reis saam na besonderse plekke en avonture.
Johan Badenhorst deel die volgende agt wenke vir enigeen wat ’n reis wil aanpak.
- Kies jou reismaat of maats oordeelkundig. In die slegste omstandighede gaan die regte reismaats die ervaring net soveel beter maak.
- Wees voorbereid. Sorg dat jy die regte toerusting vir jou beplande reis het. Dis nie nodig om R500 000 op jou voertuig te spandeer nie, maar moet ook nie probeer om Van Zylspas met ’n liggewigkarretjie aan te pak nie.
- Jou bestemming bepaal wat jy gaan dra sowel as die toerusting wat jy nodig gaan hê en die voertuig waarmee jy die reis gaan aanpak. Neem alles in ag.
- Maak dit ’n onvergeetlike ervaring. Moenie elke aand bloot pap en tjops eet nie. Met die regte beplanning kan jy elke aand ’n heerlike maaltyd geniet, en dit met ’n lekker glas wyn daarby.
- Hou jou opsies oop. Indien jy mik om tot by Kaïro te ry, doen dit, maar laat ook ruimte vir ’n verandering in jou reisplanne. Nuwe roetes kan altyd opwindend wees.
- Wees vooraf seker watter vereistes die verskillende lande het. Dit verskil van land tot land. In Zimbabwe is dit verpligtend om ’n brandblusser in elke voertuig te hê.
- Ek hou daarvan om van ’n reisigersbybel te praat. Dit is al die dokumentasie wat jy gaan nodig hê vir jou reis op een plek. Afskrifte van jou I.D.-dokument, paspoort en voertuigregistrasievorms. Indien jy goed voorbereid is en by die reëls hou, sal jy nooit in ’n situasie beland waar jy enige omkoopgeld moet betaal nie.
- Wees 100% gereed. Vir ’n besoek aan Zambië moet jy ingeënt wees teen geelkoors. Daar is malaria in die meeste lande in Afrika. Maak seker dat jy die nodige voorsorg tref.