Vlug na vryheid
Hansie Slim is pas deur die inkerkering afgedwing deur die twee despotiese hoofgetooides met betrekking tot Die Virus. Nou word hy oorweldig deur die oorlog tussen die vaxxers en anti-vaxxers. Goeie vriende noem hom ʼn skaap omdat hy ge-double-jab is. Dit terwyl hulle Covid-19 beveg deur ontwurmingsmiddels bedoel vir skape, sluk. Met die lees van hierdie brokkie komedie (of dalk tragedie) op Facebook, besef Hansie hy versuip nou óók in sosiale media se fopnuus. Of is dit waar? Hansie kan nie meer onderskei tussen die werklikheid en samesweringsteorieë nie.
Hy gryp soos ʼn drenkeling na ʼn reddingstou. Dié aangebied deur wysgere toe hy die wêreld nog verstaan het. Don Quijote wat reken die mens moet nié na die lewe kyk soos wat dit is nie. Eerder soos dit behoort te wees.
Hierdie leerstelling verwar hom. Kyk jy na die lewe soos wat dit is, is jy realisties en kan jy probeer om iets daaromtrent te doen of nie te doen nie. Kyk daarna soos wat dit veronderstel is om te wees, is jy idealisties en leef jy in ʼn feetjiewêreld. Waar is die goue middeweg tussen die twee? Dan gryp Hansie na Wordsworth se woorde, The world is too much with us. Wordsworth het tydens die Industriële Revolusie die mensdom van materialisme beskuldig omdat hulle die rug op die natuur gedraai het. Maar is die wêreld wat too much with us is, nie die werklikheid nie? Is die wildsbokke, leeus, die sogenaamde ongerepte vlaktes, lugbesoedeling, oorbevolking en klimaatsverandering nie alles deel van die natuur nie?
Intellektuele lafaard wat hy is, spring Hansie in sy bakkie en vlug. Waarheen? Hy weet nie. Maar van een ding is hy seker. Hy wil net nie hier wees waar hy nou is nie.
Aangekom in die Tankwa Karoo, hou Hansie onder ʼn boom stil. Drink ʼn bier om die kwaadwillige gode wat buitebande op hierdie paaie soos data opvreet, te paai. Onverwags word sy geestesoor gevul met ʼn deuntjie op ʼn ramkie getokkel (ʼn ramkie is ʼn viersnaarkitaar gemaak van ʼn Pegasus-olieblik met ʼn olienhoutnek en gespan met snare gefatsoeneer uit skaapderms).
Dirk Ligter. Troebadoer. Rympiemaker. Ramkiespeler. Ligter (circa 1860 – 1930) was ʼn maaifoedie wat nie net sy buurman se vrou begeer het (en met ongekende sukses kon verlei nie), maar ook sy buurman se vet lammers (met selfs groter sukses kon herverdeel).
Sy verrinnewerings van die Agtste en Tiende Gebod het van die nimlike Dirk ʼn legende gemaak. Nié bloot omdat hy sy ‘gehaalde’ vleis met die armes gedeel het nie, maar ook omdat hy plaaswerkers kon oortuig dat hy die paljas (toorgoed) dra. Ligter was van Boesmanherkoms en het op hierdie manier genoeg vrees by plaaswerkers ingeboesem om nooit sy skuilplekke aan die polisie te verklap nie.
Die verpersoonliking van vryheid. Dit was Dirk Ligter. ʼn Ongebonde lewe, vry van teenstrydige teorieë. In ʼn wêreld waar die kankerbos en springbokke die nuus aandra. En indien die springbokke in ‘n gegewe jaar nie dragtig geword het nie, het Dirk geweet dit gaan nie reën nie. Dan moes hy plan maak. Die lammers sal minder wees en die boere hou hul vee op kraal. Maar dit het hom nie getraak nie. Ligter kon verby waghonde sluip (asof hy hulle gehipnotiseer het) en vir hom ʼn vet lamsboud uitsny. Hy het egter die res van die lam in die vel toegedraai en op die boer se stoep gaan neersit. Mededeelsaam was hy.
Gedurende die winter wanneer die sneeu op die omliggende berge lê en die Tankwa te koud word, het Dirk hom láát vang. Tronkstraf met kos en ʼn warm lêplek sy voorland. Op ʼn kol sien die magistraat deur sy plooi en vonnis hom tot drie weke. Dirk het sy hoed op die hof se blink vloer neergesmyt en verklaar: “My kroon, hierdie is ʼn plek van geregtigheid en dit moet vandag geskied. Ek aanvaar niks minder as vier maande nie.”
Helaas is hy per geleentheid Kaapstad toe gestuur as dwangarbeider vir die aanbou van die breekwater. Daar doen hy tering op. En hierdie man wat perde se fut kon uithardloop, sterf op die ou end aan versmoring.
Was Dirk Ligter vry van die alledaagse? Hansie is nie seker nie, maar met die laaste van Dirk se note op die ramkie vaar hy die Tankwa in. Wederregtelike skaap en sy buurman se vrou begeer hy nie. Maar Hansie verkies om met die bruinjakkalsvoëls en die Boesmanskers om te gaan om te hoor wat in sy wêreld aangaan.
Artikel deur Hein Eksteen, ’n storietrekboer wat saam met Ben Rumson (Lee Marvin in Paint Your Wagon) glo: ‘I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back.’ Die Wes-Kaap is sy herkoms. Suider-Afrika sy herwaarts en derwaarts. Hierdie storie het oorspronklik in Grond tot Mond verskyn
Skryf in vir Grond Tot Mond Nuus briewe