Van Mica tot La Motte – die reis van ’n Pierneef-skildery
Geboë voor sy esel droom die bejaarde kunstenaar van ʼn skildery tussen die dor bene van bome deur. Hy maak sy oë toe: “Mag ek, Heer, hierdie skrefie Afrika met kwas en kleur meetkundig reduseer; in plat vlak en lyn U orde en harmonie probeer herskep? Wie kan dit waag om u wonder na te verf?”
Hy blaas sy asem uit en vee die eerste blou van die bergkruin, sonder om verder te pieker en sonder om, soos altyd, te wonder of iemand ooit ʼn stuiwer vir sy mossie sal betaal.
Hy verf en dit is laatmiddag toe hy sy eseltjie opslaan, die prent versigtig inlaai en sy ry terug Pretoria toe kry. Tevrede, al sou dié bietjie bos ook onverkoop tussen ander teen sy eie kamermuur moet bly hang.
Tog kies die skilderysmous juis dié landskap vir sy ventertog deur die Riemland, en hy verkoop dit vir ʼn pond of wat aan Cornelius J. Wessels, ‘n boer van die plaas Middelpoort in die Vrede-distrik.
“Dankie,” sê die skilder toe die smous die boodskap bring, “nou bly my platkruine immers tussen hulle eie stamme staan.”
Toe Cornelius Wessels sterf, erf sy dogter, Cupie Wessels (Wessels gebore en Wessels getroud) dit en sy bemaak die skildery weer ná baie jare aan haar kleinseun, Jurie Wessel Wessels.
Ná sy huwelik met Deoné gaan werk hulle in Londen, maar voor hul vertrek laat hulle die skildery in die sorg van Penny Culverwell, Bonhams in Londen se verteenwoordiger in Johannesburg. Sy stuur dit na Bonhams Auction House in Londen, waar dit op 14 Oktober 2009 in die vreemde opgeveil word en vir veel meer as ʼn Engelse pond of wat verkoop word.
Jurie en Deoné woon die veiling in Londen by en doen agterna benieud navraag oor die koper, maar kon nie uitvind wie dit is nie. Kunsafslaers wat hul sout werd is, verklap nie die identiteit van ʼn koper nie.
“Nou,” sug Jurie, “nou kan ons huis toe gaan en vir ons ook ʼn wingerd aan die Weskus koop, my lief.”.
“Lowveld, Mica, Eastern Transvaal,” lees Deoné uit die katalogus en kyk vir oulaas na die verkoopte skildery. “Ons ruil ʼn erfie bosveld vir ons eie wingerdstok.”
ʼn Paar jaar later besoek hulle die Pierneef à La Motte-restaurant in Franschhoek en tot hul groot vreugde is ooroupa Cornelius se skildery deel van die restaurant se kunsversameling.
Die Bosveld hang ná duister draaie weer teen Afrika se muur.
En wat as Jacob Hendrik Pierneef daardie dag in die jaar 1945 by Mica nie geskilder het waaroor hy gedroom het nie?
Om te skep, is om te droom en hy wat nie in drome glo nie, is nie ʼn realis nie!
Hierdie artikel is geskryf deur Hans Du Plessis en oorspronklik in Maroela Media gepubliseer.
Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis
Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms