Unieke foto-uitstalling in Parys
Reisende uitstalling met meester kunswerke deur die kamerlens
Die uitstalling spog met 70 afdrukke van 70 fotograwe wat met sorg gekies is uit 850 inskrywings wat PSSA lede van oor die land ingeskryf het.
‘n Unieke uitstalling van foto’s deur van die beste fotograwe in die land kan nog tot Donderdag van 08:00 tot 18:00 by Woodlands Country Lodge net buite Parys op die Kopjeskraalpad gesien word. Die uistalling vorm deel van ‘n uitstalling wat tot 2026 deur die land sal reis ter herdenking van die 70ste bestaansjaar van die Photographic Society of South Africa (PSSA).
Die uistalling spog met 70 afdrukke van 70 fotograwe wat met sorg gekies is uit 850 inskrywings wat PSSA lede van oor die land ingeskryf het. Die doel van die uitstalling is om die uiteenlopende vaardighede van lede in ‘n verskeidenheid van genres te vertoon. Toegang by die uitstalling is gratis en besoekers is welkom.
Afdrukke deur van die beste Suid-Afrikaanse fotograwe, tot uitstaande werk deur minder ervare lede (selfs ‘n skolier), is gekies vir die uitstalling. ‘n Kwart van die lede wie se foto’s gekies is vir die uitstalling kom van klubs in Vanderbijlpark, Klerksdorp, Sasolburg, die Vrystaat en Suidelike Johannesburg.
Die inkomste van foto’s wat verkoop word, sal aan die SanParks Honorary Rangers geskenk word.
Van Parys gaan die uitstalling na Potchefstroom waar dit in die Snowflake Gallery gesien kan word van 9 tot 18 Oktober.
Die uitstalling in Parys val saam met die PSSA Kongres wat terselfdertyd ook by dieselfde lokaal gehou word. Almal met ‘n belangstelling in fotografie is welkom om ook die kongres by te woon – selfs diegene wat nie PSSA lede is nie.
Meer oor PSSA:
PSSA is in 1954 gestig omdat die stigterslede geglo het ‘n oorkoepelende verteenwoordigende organisasie is die ideale manier om hoë fotografiese standaarde in die land te bevorder wat met die uitstalling gesien kan word. PSSA het tans 116 senior en skoolklubs in 11 streke wat by die vereniging geaffilieer is, asook meer as 1 100 individuele lede.
Navrae:
Vir navrae oor die Parys uitstalling en PSSA kongres stuur ‘n e-pos na Chris Nel by chrisnel37@gmail.com of skakel 082 891 9944.
Gaan na www.pssa.co.za om die daaglikse program van lesings en werkswinkels deur kenners op hul gebied te sien, en om te registreer vir die werkswinkels.
Deur Liezl Scheepers en het oorspronklik in die Parys Gazette Verskyn