- Met inagneming van eksponensiële groei, word dié sektor beraam op minder as 5% van skoolgaande kinders.
- Volgens die Suid-Afrikaanse Algemene Huishoudingopname van 2016 was 0,2% van die leerders in Suid-Afrika (skoolpligtige leerders) in tuisonderrig.
- In Oktober 2022 was daar in die Verenigde Koninkryk na raming ongeveer 80,900 tuisopgeleide leerders, wat teen Januarie 2023 gestyg het tot sowat 86,200.
- In teenstelling met die Britse statistiek, wys statistiek uit die Verenigde State van Amerika (VSA) dat ongeveer 5,4% van Amerikaanse huishoudings ten minste een kind van skoolgaande ouderdom in tuisonderrig het.
- Volgens die National Home Education Research Institute (NHERI) was daar tydens die skooljaar 2020/2021 ‘n indrukwekkende getal van 3,7 miljoen tuisskoolleerders in die VSA.
- Dit is opmerklik dat in Amerika die praktyk van tuisonderrig ‘n jaarlikse groeikoers van 10,1% tussen 2016 en 2021 ervaar het.
Tuisskoolonderrig – aanlyn vs tuisskool
Die onderwys- en leierskapskenner, voormalige onderwyser en ouer van ’n tuisskoolleerder, Graeme de Bruyn, het vir ons die kwessie van tuisonderrig verduidelik, veral omdat die mees onlangse wysigings aan die Wet op Basiese Onderwys (BELAB) tot heelwat onsekerheid rakende tuisonderrig gelei het, onder andere of dit wettig is of nie. Volgens Graeme is dit absoluut wettig en is die inskrywing van ’n leerder vir tuisonderrig steeds onderhewig aan dieselfde vereistes as voorheen. Wat wel in gedagte gehou moet word, is dat tuisonderrig in die beste belang van die kind moet wees en “van ’n standaard wees wat nie minderwaardig is in vergelyking met die standaard van onderwys wat by openbare/publieke skole voorsien word nie”. Graeme sê dan ook dat die maniere waarop tuisskoolgesinne ’n verskeidenheid onderwys- en sosiale leer saamstel en die meng van leergeleenthede aan die toeneem is. In die verband, maak ouers gebruik van ’n verskeidenheid aanlyn, mikroskool en tuisskoolgeleenthede deur middel van ’n lidmaatskapmodel. Die vooruitsigte en implikasies vir tuisonderrig in die veranderende onderwyslandskap en die toename in die sosiale aanvaarding van tuisonderrig, het tot gevolg dat die klaskameromgewing meer leerdergerig word. Almal het toegang tot onderwys deur middel van die integrasie van tegnologie, rekenaartoeps en so meer. Daarom gaan hierdie “medeleer”-ruimtes verder uitbrei.
Ouers en onderwyskundiges wil weet wat dit presies is en waar dit inpas, want tuisonderrig of aanlyn leer bring ’n radikale herbesinning van leeromgewings na vore. Dit het meegebring dat daar opnuut na die rol van die onderwyser gekyk moet word. Dit het nodig geword om met nuwe oë na skoolopleiding te kyk en oplossings te vind vir ouers se uitdagings en vewagtinge in die verband.
Lees gerus wat sê Graeme oor die impak van tuisonderrig en aanlyn leer op die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel.
Met die opkoms van tuisonderrig en aanlyn leer het die tradisionele persepsie van onderrig in Suid-Afrika, wat tipies geassosieer word met onafhanklike en openbare skole in fisiese geboue, ‘n nuwe dimensie gekry.
Tuisonderrig kan onafhanklik deur die ouers of met behulp van aanlyn bronne, diensverskaffers, of tutorsentrums voorsien word. Inskrywing van ʼn leerder vir tuisonderrig is soos genoem onderhewig soos voorheen aan die vereistes nog voor die voorgestelde Bela-wetsontwerp. Tuisonderwys is ‘n erkende vorm van onderwys in Suid-Afrika, met amptelike erkenning sedert 1996. Een van die 56 klousules in die Bela-wetsontwerp, is gemik op die nie-institusionele tuisonderrigsektor. Die voorgestelde wysigings in die Bela-wetsontwerp het ‘n spesifieke fokus op tuisonderrigleerders en hul ouers, sowel as tutors wat tuisonderrig ondersteun. Volgens ʼn tuisskool-diensverskaffer het die Bela-wetsontwerp ten doel om te verseker dat ouers wat hul kind na graad 9 tuis wil onderrig, lesmateriaal sal gebruik wat aan die vereiste standaarde vir die registrasie vir die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) voldoen.
Wat is tuisonderrig?
Tuisonderrig word geassosieer met beskrywings soos tuisgebaseerde onderwys, selfgerigte leer (SGL), tuisonderwys, tuisgesentreerde leer, ontskool, en kindgesentreerde leer. Al hierdie terme is alombekend van onderrig en leer wat gewoonlik in ‘n huisomgewing plaasvind en buite die gesertifiseerde staats-, openbare- of private skoolomgewing gebeur.
Daarbenewens, maak dit voorsiening vir ‘n meer persoonlike onderwyservaring, aangepas by die individuele behoeftes en belange van die kind. Dit maak ook voorsiening vir meer buigsaamheid in die skedulering van kurrikulumkeuses.
In tuisonderrig bly die primêre verantwoordelikheid vir onderrig by die ouers of leerders se tutors. Ondanks die ouerlike pligte word bywoning, vordering en deurlopende assessering gereguleer deur die tersaaklike onderwysdepartemente.
Statistiek hier en elders
Redes vir tuisskoolonderrig?
Tuisskoolouers word nie net gemotiveer deur filosofiese denkwyses, leefstyl en geloof nie, maar ook deur lewensvereistes en pragmatiek (skoolkostes, daaglikse skoolritte, en so meer), en veral ‘n kind se unieke opvoedkundige of gesondheidsbehoeftes.
Die mees onlangse data in die Verenigde Koninkryk het bevind dat 34% van ouers in ʼn steekproef gesê het dat hul belangrikste rede oor hoekom hulle tuisonderrig gekies het, hulle ontevredenheid met die leeromgewing van skole was. Sewentien persent ouers het ontevredenheid met die leermodel en die leerinhoud by skole as hul redes aangedui.
Wat is die vooruitsigte en implikasies vir tuisonderrig in die veranderende onderwyslandskap?
Een van die kwessies wat gereeld opgehaal word ten opsigte van tuisonderrig, is dat kinders geïsoleer word van die hoofstroomsamelewing waar leerders gesien word as beperk in hul lewensblootstelling teenoor leerders wat van tradisionele skoling gebruik maak. Menige kinders wat tuisonderrig ontvang, word bedien deur diensverskaffers in ʼn aanlyn klaskamer met kurrikulumbronne, aangebied as ’n ondersteuningsdiens met gekwalifiseerde tutors en deelname aan aktiwiteite met ander tuisskoolleerders.
‘n Verdere knelpunt is dat tuisskoolleerders geïsoleer word van die algemene gemeenskap en dus beperk word in hul lewensblootstelling vergeleke met leerders wat nie tuis onderrig word nie. Tog wys die meeste ouers van tuisskoolleerders se ervarings daarop dat tuisskoolonderrig die sosialisering van hul kinders versterk, selfs in terme van blootstelling aan loopbaangeleenthede.
Daar is gevind dat daar nie wesenlike verskille is tussen tuisskoolleerders vergeleke met leerders in openbare of onafhanklike skole in hul aanpassing as gesosialiseerde en funksionerende volwassenes nie. Elke leerder se ervaring en aanpassing by die sosiale omgewing hang af van verskeie interne en eksterne faktore, insluitend gesinsdinamika, persoonlike belangstellings, individuele omstandighede, en sosiale interaksies buite die skoolkonteks.
Daar is nie ‘n universele waarborg dat die een tipe skoolomgewing beter of meer afbrekend is vir die aanpassing van leerders as volwassenes nie, omdat elke leerder se situasie uniek is.
Belangrik:
Dit is duidelik dat daar verskeie uitvloeisels van tuisonderrig is.
Wat is die mees gebruikte modelle van tuisonderrigimplementering?
- Die afgelope aantal jare ondergaan tuisonderrig ʼn transformasie. Daar is ʼn toenemende tendens waar tuisonderrig gekombineer word met institusionele skoolopleiding.
- ʼn Nuwe benadering tot onderwys wat bekend staan as buigsame onderrig (“flexischooling”), oorbrug die grense tussen tuisonderrig en tradisionele skoolomgewings.
- ‘n Ontleding van ‘n onlangse nasionaal verteenwoordigende opname het bevind dat “die meeste tuisskoolgesinne tuisonderrig aanvul met samewerkende instrukteurs en privaat tutors, aanlyn onderwys en onderrig in die klaskamer.
- Leergeleenthede word toenemend vermeng. In tuisonderrig word onderskei tussen drie kategorieë, naamlik tuisskool, konvensioneel geskool en gekombineerde onderrig. Met die netwerkpotensiaal (internet), kunsmatige intelligensie en die toename in die sosiale aanvaarding van tuisonderrig, word die klaskameromgewing meer leerdergerig.
- Medeleerruimtes waar gesinne toegang het tot aanlyn, mikroskool en tuisskool-geleenthede gaan verder uitgebrei word. As voorbeeld is daar reeds verskeie diensverskaffers wat ’n aanlyn sentrumgedrewe en ʼn tuisleerekosisteem vir dié leerders
- Aanlyn kursusse bied tuisskolers ’n wye verskeidenheid vakke en hulpbronne wat voorheen nie aan hulle beskikbaar was nie.
- Aanlyn leer maak ook voorsiening vir groter buigsaamheid in skedulering en leertempo, wat dit makliker maak vir gesinne om hul opvoeding aan te pas by hul individuele behoeftes.
- Daarbenewens het aanlyn leer dit vir tuisskolers moontlik gemaak om met ander studente en onderwysers van regoor die wêreld kontak te maak en ‘n wêreldwye gemeenskap van leerders te skep.
’n Slotgedagte
Tuisonderrig as ‘n vorm van selfgerigte leer, aangedryf deur opvoedkundige tegnologieë, sal nie die rol van onderwysers vervang nie. Dit vereis wel ‘n fokus op die aard van die leeromgewing, leerruimtes, die verskeidenheid maniere waarop leer plaasvind. Meer nog die onderwysers se betrokkenheid by die vorming van die unieke menslike elemente van leergemeenskappe wat kinders aanmoedig om hul eie leerervaring te bevorder.
Kyk gerus hier na die volledige onderhoud: https://youtu.be/qnPQCW8mc7A
Deur Annelie van Jaarsveldt Afrikaans.com en het oorspronklik in verskyn