JOHANNESBURG. – Die moordbeskuldigde Paralimpiese atleet Oscar Pistorius se regspan het misluk in hul poging om te verhoed dat bykomende aanklagte teen hom gebring word.
Mxolisi Nxasana, nasionale direkteur van openbare vervolging, het Pistorius se regspan se argument verwerp oor die aanklagte. ’n Rede vir dié besluit is nie bekend gemaak nie, berig die eNCA-nuuskanaal.
Pistorius se regsverteenwoordigers het aangevoer dat twee aanklagte, wat verband hou met die roekelose hantering van ’n vuurwapen, nie by die moordklag gevoeg moet word nie omdat dit buite die jurisdiksie van die Noord-Gautengse hooggeregshof plaasgevind het.
Die moordverhoor begin in Maart 2014.
Pistorius se regsverteenwoordigers het nog nie kommentaar gelewer nie.
Die steratleet word daarvan beskuldig dat hy sy vriendin, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag vanjaar in sy huis in Pretoria vermoor het.
Artikel: DIE BURGER.