Hoofsweep Rapport 43: Midvaal maak 14 028 slaggate in 3 maande reg!
“Baie dankie aan die inwoners wat hierdie personeel ondersteun en waardeer, op die toneel en op sosiale media”
Deur Raadsheer Phil C. Pretorius – DA-Hoofsweep, Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
Kyk, ek was nooit goed met wiskunde nie. Dit is hoekom ek my in die Menswetenskappe begewe het. Maar sekere woordsomme is vir my bitter logies. Kom ons kyk:
Jy het 800 rugbyvelde se gras wat gesny moet word. Jy het vier grassnyers en kan net sny as dit lig is. Die son kom op om 08:00 en gaan onder om 16:00 (werksure). Die grassnyers moet elke twee ure vir ʼn half uur rus anders brand hulle uit… so ook die masjinerie. Daar is net 100 liter brandstof en die masjinerie gebruik ongeveer ʼn liter per rugbyveld. Ons kan met sekerte sê dat dit elke derde dag vir vyf dae aan een gaan reën en jy kan nie in die reën sny nie. Vraag: Hoe lank vat dit voordat die tannie oorkant die straat kla oor die lang gras? Antwoord: so 12 minute… ”give or take”.
Wag, hier is ʼn makliker een.
Jy moet die gate in die mure toestop by ʼn veerpyltjiekompetisie (Dart Tournament). Dit is ʼn baie belangrike werk en jy moet dit doen terwyl hulle speel. Dit maak dit ook baie gevaarlik. ʼn Wedstryd is ongeveer 15 minute lank met ʼn vyf minute breek tussen in. Dit vat sewe minute om ʼn gat reg te maak en na ʼn ronde is daar ongeveer 200 gate in die muur (dit is nou as dit net liggies gereën het… ek bedoel as hulle mooi raak gegooi het). Daar is 15 veerpyltjieborde waar gate reggemaak moet word en jy kan nie gate regmaak terwyl hulle gooi nie. Wel jy kan, maar dan moet jy die gevolge dra van dié wat nie kan gooi nie. Vraag: Werk uit hoeveel spelers gaan snedige opmerkings maak omdat jy nie kans kry om vir hulle drankies aan te dra nie?
Ek moet onmiddellik om verskoning vra vir die sarkasme. As lektor vind ek dit net baie makliker om begrippe te verduidelik aan die hand van voorbeelde en ek weet ook nou nie meer watter kant toe nie. Sien, agt weke se reën, plus groeiseisoen, minus vakansiedae, vermenigvuldig met 1 788 km2 oppervlakte en 1800.08km paaie, gedeel deur vier voltydse slaggatherstelspanne en nog ekstra uithelpspanne, is gelyk aan WERK HULLE DOOD EN VERDIEN ONS ONDERSTEUNING. ʼn Sommetjie wat ons kan maak is dat 2 805,71m2 se slaggate in die laaste 12 weke reggemaak is. Dit kom neer op ongeveer 14 028 slaggate in Midvaal in die laaste drie maande.
Ek moet byvoeg dat wanneer ons nie sien waar hierdie spanne werk en presies wat hulle doen nie, beteken dit nie dat hulle NIKS doen nie. Dit beteken nie dat hulle nog NOOIT aan ʼn pad gewerk het en GLAD nie omgee of NIKS doen in Midvaal nie. Selfs in Emfuleni doen Emfuleni se spanne IETS.
Dit is egter doodnormaal vir ons om graag ons area skoon en netjies te wil hê. Vir daardie rede kla ons en probeer ons Midvaal se aandag op probleme vestig en ons waardeer die positiewe insette wat ons inwoners lewer. Ek kan u egter my woord gee dat hierdie departemente alles in hulle vermoë doen om te help waar hulle kan. Indien u dink dat u area oorgeslaan is en dit nie as gevolg van die onlangse reën is nie, kontak asseblief u wyksraadslid vir verdere aksie (alle kontakbesonderhede op www.midvaal.gov.za – Council Structure en op die MyMidvaal App – Council). Hulle help graag.
Dankie aan MMC Gerrit Viljoen en sy Ingenieursafdeling asook MMC Thembi Modiba en haar Parke-afdeling vir hulle ongelooflike harde werk.
Baie dankie aan die inwoners wat hierdie personeel ondersteun en waardeer, op die toneel en op sosiale media.
Groete, Ph!l