Jessica’s Wall of Life kry ondersteuning van VLU Sasolburg-Alpha Tak!
Die Jessica’s Wall of Life personeel is genooi na die maandelikse vergadering van die VLU (Vroue Landbou Unie), Sasolburg (Alpha-tak), op 2 September. Michelle het ‘n praatjie gelewer oor JWOL (Jessica’s Wall of Life) en meeste van die dames wat teenwoordig was is ouer as 60. Dit was ‘n wonderlike ervaring, juis omdat mens dink dat dit net die jongmense raak!
Dit is sulke geleenthede waarby ons die woord oor JWOL kan uitdra, want elkeen van hierdie dames neem die storie saam na hul huise toe.
Die dames het vir ons pragtige kombersies en gehekelde goedjies geskenk, en natuurlik lekker bederf met spesiale eetgoed.
Wat is Jessica’s Wall of Life vra julle?
Eendag, nie so lank lank gelede nie, in 2006, het Speurder Michelle Stephenson van die Boipatong Polisiestasie, Vanderbijlpark, ‘n baba op die Vanderbijlpark ashoop gevind. Sy het die pasgebore dogtertjie in haar arms opgetel, in stryd met wat sy geleer is as polisie beampte; dat jy nie aan ‘n misdaadtoneel moet peuter nie.
Die baba was vermoor pas nadat sy gebore is! Sy was versmoor! Michelle het besluit dat iets gedoen moet word om te keer dat meer babatjies soos dié een, doodgemaak word. Sy het die baba Jessica genoem, en haar amptelik aangeneem. Jessica Stephenson is hulde betoon deur ‘n ordentlik begrafnis en is begrawe in ‘n pragtige kissie spesiaal vir haar gemaak.
Michelle het die jare onthou toe sy in Hillbrow gewerk het. Sy het onthou hoe mense hulle babas na die klooster gebring het en hulle aan die nonne oorgegee het. Vanderbijlpark het egter nie ‘n klooster nie en hier is niemand wat die babas kan in neem nie. ‘n Idiee het by haar opgekom om ‘n kas te kry waarin babas veilig geplaas kan word en op die 29ste Februarie 2008 is die eerste Jessica’s Wall of Life onthul in Vanderbijlpark.
JWOL werk op ‘n eenvoudige beginsel. Sodra ‘n mamma die kasdeur oopmaak om haar baba in te sit, gaan daar ‘n alarm af in Cormed, wat die personeel vertel daar is ‘n nuweling. Sodra die mamma haar baba op die matrassie sit, is daar ‘n sensor wat ‘n ultraviolet lig aanskakel om die kindjie warm te hou. Die deur sluit sodra die mamma dit weer toemaak wat verhoed dat enige iemand die baba kan uithaal of steel, selfs nie die mamma nie. Indien sy wel van plan verander, mag sy na die hospitaal toe gaan om hulp te kry.
Babatjie kry dan dadelik spesiale aandag van die hospitaal se personeel, wie dan seker maak hy of sy is gesond. Huidiglik het ons 10 babas deur die kas agter Cormed gekry – alhoewel nie ALMAL fisies in die kas gesit is nie. Mammas kan ook vir Michelle skakel as hulle probleme het, wie dan help sodat hulle babas in veilige hande beland. Aannemings word nie deur JWOL gehandhaaf nie – die kinders gaan na TLC in Johannesburg waar die aanneming prosedures gevolg word.
Daar is nie 24 uur per dag harde werk verbonde aan JWOL nie dit is meer ‘n “bystand” geval. As daar ‘n baba is, is daar baie opgewondenheid en blydskap. Die res van die tyd word die JWOL personeel besig gehou met reklame, onderhoude met radiostasies en fondsinsameling. Onlangs het die River Square Sentrum hulle gehelp om vir Mandela Dag kombersies te brei – die hele sentrum het saamgespan om blokke te brei en aanmekaar te werk.
Michelle werk nog as inspekteur by die polisiestasie en Rene wy haar tyd ten volle aan JWOL. Sy hanteer die FaceBook Blad, alle media, eposse en data. Sy is ook die amptelike fotograaf.
Aan fondse is daar altyd ‘n tekort maar die publiek gee altyd, sonder skroom, met oop hande wanneer daar hulp benodig word vir enige funksies of benodigdhede. JWOL se visie is groot – hulle wil en moet, baie meer babas red! Alhoewel JWOL baie voortuitgang tot dusver toon, word daar nog daagliks babas doodgemaak deur moedelose mammas wat nie weet waarheen nie, wat dink dat die enigste opsie is om hulle babas dood te maak na geboorte, of ‘n aborsie deur te gaan.
Op die 29ste Augustus is die 2de “Wall” onthul by Dante Chan Christian Centre in Vanderbijlpark. Die 3de een is oppad en word beplan in Duncanville. Daar word tans ‘n dokumenter beplan wat ‘n wonderlike paar mense vir ons gaan vervaardig. Dit gaan egter nog ‘n hele ruk neem voordat die redigering voltooi is en dit aan die wereld voorgestel kan word. Dit beloof om ‘n fantastiese instrument te wees wat bewustheid sal bevorder en ‘n wonderlike geskenk van God!
Daar is nog geen formele kantoor spasie in plek nie, maar die wereld word verseker dat die nodige administrasie wat finansies en ander administratiewe werk hanteer, in plek is. JWOL se sake word deur Finad behartig en beheer.
In vandag se tye is sosiale media soos FaceBook en Whatsapp ‘n treffer vir die verspreiding van media. Ander digitale media word per epos versprei. Die publiek en ondersteuners word op hoogte gehou deur middel van laasgenoemde digitale media. Fotos en informasie van ons funksies en geleenthede word daardeur versprei en tans word daar aan ‘n splinter nuwe webwerf gewerk!
Alles sal binnekort ten volle in plek val, met almal, en ook God, se hulp. Dit sal ook grootliks waardeer word as plaaslike kerke ook sal help om blootstelling te gee aan Jessica’s Wall of Life – elke lewetjie wat gered word, is ‘n asem vir God!
Geskryf deur: Rene’ – Jessica’s Wall of Life.
Jessica’s Wall of Life kry ondersteuning van VLU Sasolburg-Alpha Tak!