Snuffelrot tree af ná roemryke loopbaan
ʼn Rot genaamd Magawa wat jare lank landmyne in die Kambodjaanse platteland uitgesnuffel het, gaan nou die tuig neergelê en sy welverdiende aftrede geniet.
Magawa, oorspronklik van Tanzanië, is opgelei deur die Belgiese welsynsorganisasie Apopo wat sê die rot het in sy loopbaan van vyf jaar lank landmyne oor 225 000 m² help uitsnuffel. Dit is die grootte van sowat 42 sokkervelde.
Nadat hy 71 landmyne en 38 ploftoestelle uitgesnuffel het, “word hy nou effe moeg”, sê Michael Heiman, die organisasie se programdirekteur in Kambodja.
Die beste ding vir hom is om af te tree.
Miljoene landmyne is tussen 1975 en 1998 in Kambodja gelê en dit het oor die jare duisende ongevalle veroorsaak.
Apopo het Magawa in Tanzanië opgelei om die chemiese element in springstof uit te snuffel deur hom met snoephappies te beloon. Sy gunstelinge was piesangs en grondbone.
Magawa stel die res van die span van ʼn moontlike landmyn in kennis deur die grond te krap
Hy kan binne net 30 minute skarrel oor ʼn gebied die grootte van ʼn tennisbaan, iets wat iemand met ʼn metaalverklikker vier dae sou neem om te doen.
Hy is egter groot genoeg om aan ʼn leiband te loop, maar terselfdertyd lig genoeg om nie die landmyne te laat ontplof nie.
Heiman sê Magawa sal nou doen waarvoor hy die liefste is – om aan piesangs en grondbone te knaag.
In September verlede jaar het die rot die dieregelyke van Engeland se hoogste burgerlike eer vir dapperheid ontvang vir sy vermoë om landmyne en ploftoestelle op te spoor.
Magawa was die eerste rot om die PDSA-medalje in die 77 jaar lange geskiedenis van die toekennings te ontvang. Hy sluit hom aan by ʼn uitgelese groep wat bestaan uit honde, katte en selfs ʼn duif.
Die organisasie sê 20 nuut opgeleide rotte het onlangs in Kambodja aangekom en het pas hul akkreditasie van die owerhede ontvang om landmyne te begin uitsnuffel.
Hulle het egter groot skoene om vol te staan.
Magawa is ʼn “baie uitsonderlike rot”, sê Heiman. “Ons gaan hom uiteraard geweldig tydens ons operasies mis.”
Oorspronklik in Maroela Media gepubliseer