RSG gee toon aan met ‘Uitskieters’
Uitskieters is ʼn nuweling wat tydens die afsonderingstydperk op die RSG-musiekwerf verwelkom is. Dié program sal voortaan in die plek van die SA Top-20-treffersparade uitgesaai word.
“Uitskieters is tot dusver goed deur luisteraars ontvang,” sê Muriël Janse van Rensburg, RSG se geleentheidsbeplanner. “Dit pas ook goed by ons skedule en handelsmerk in.”
RSG se treffersparade wat deur David Gresham geskep en aangebied is, is een van die stasie se oudste programme. Dit was vir meer as vyf dekades op die lug. Weens ʼn drastiese afname in albumverkope die afgelope paar jaar is RSG genoop om dié program te beëindig. Boonop het die Covid-19-pandemie verder bygedra tot handelaars wat hul deure moes sluit.
Die radiostasie het ook besef dat die treffersparade ʼn nuwe koers sal moet inslaan om by te hou met die veranderende musieklandskap.
Uitskieters is deur die gewilde musiekaanbieder Fritz Klaaste ontwikkel. Klaaste het met verskeie idees geëksperimenteer voordat die konsep vir ʼn program gefinaliseer is.
Dit bestaan uit vier afdelings wat belyn is met die jongste neigings in die musiekbedryf. Klaaste kyk weekliks na vooruitsigte van gewilde enkelsnitte gebaseer op Top-10-trefferparades van verskillende wêreldwye digitale platforms, ‘n terugblik op die top-10 van die jare wat verby is gegrond op die SA Top-20-statistieke, nuwe toevoegings tot die radiostasie se amptelike stasiespeellys van die afgelope week en ander nuusgebeure in die bedryf.
Uitskieters word Saterdae net na 13:00 op RSG uitgesaai.
Hierdie berig is oorspronklik in Maroela Media gepubliseer