Petisie teen lisensie vir Netflix, Showmax
Die DA het ʼn petisie van stapel gestuur teen die regering se voorgestelde planne om lisensiegeld vir stromingsdienste soos Netflix en Showmax te hef.
Die voorstel word ingesluit in die departement van kommunikasie en digitale tegnologieë se witskrif oor die beleidsraamwerk vir oudio- en oudiovisuele inhoudsdienste waarin die regering voorstel dat die definisie van ʼn uitsaaidiens verbreed word om ook aanlyn uitsaaidienste in te sluit.
In hierdie stadium word ʼn uitsaaidiens in wese beperk tot ʼn televisiestel en Suid-Afrikaners moet ook ʼn geldige televisielisensie toon wanneer ʼn televisie aangekoop word. Dié lisensiegeld aan die SAUK is van krag, of jy nou na SAUK-kanale kyk of nie.
Al hoe meer stromingsdienste is egter op byvoorbeeld ʼn selfoon of rekenaar beskikbaar.
Die DA sê ingevolge die voorstel sal Suid-Afrikaners nou meer moet opdok om gebruik te maak van dié uitsaaidienste, of dit nou op ʼn TV, rekenaar of foon is.
“Die DA is ten sterkste gekant teen die lisensiegeld vir stromingsdienste. Dit is in wese ʼn onderduimse pogings deur die ANC om Suid-Afrikaners te dwing om hul swaarverdiende geld te gebruik om die SAUK uit die moeilikheid te haal,” het Zakhele Mbhele, die DA se woordvoerder oor kommunikasie en digitale tegnologieë, gesê.
“Dit is belaglik dat die regering Suid-Afrikaners wil straf deur hul geld te gebruik om ʼn entiteit vol te hou wat die ANC, deur sy onophoudelike inmenging, verwoes het.”
Mabhele sê die DA besef die belang van die SAUK as openbare uitsaaier.
“Die uitsaaier moet egter kreatiewe maniere vind om homself te onderhou en gelyk te breek sonder dat Suid-Afrikaners meer geld hoef te betaal.”
Die adjunkminister van kommunikasie, Pinky Kekana, het in Oktober aan die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie gesê die SAUK moet dringend sy lisensie-inkomste vergroot.
Kekana het gesê die lewe verander vinnig en dat die definisies vir die gebruik van lisensies uitgebrei sal moet word om almal in te sluit wat op enige manier na uitsendings kyk.
Artikel deur Christel Cornelissen en oorspronklik in Maroela Media gepubliseer