Noem My Skollie maak geskiedenis!
Die fliek, Noem My Skollie, het geskiedenis gemaak toe dit die afgelope week by Pollsmoor-gevangenis vertoon is. Dit is die eerste film wat nog ooit in hierdie maksimum-gevangenis vertoon is, voordat dit landswyd op die grootskerm vrygestel word.
Die fliek is op Dinsdag, 16 Augustus, vir sowat 150 mense gewys, wat bestaan het uit tronkbewaarders, ’n groep van sowat twintig gevangenis van die Kuns- en Kultuurafdeling, ’n paar genooide gaste van NICRO (Nasionale Misdaadvoorkomingsorganisasie), en Kunstekaap, wat saam met hulle Noorse vennote aan ’n teater-projek werk – wat gevangenes en diegene wat op parool vrygelaat is insluit – genaamd Help I am Free.
Daar is nog ’n sessie op 17 Augustus gehou, sonder die teenwoordigheid van die media en publiek, sodat dit meer van die tronkbewoners kon bereik. 130 manlike en vroulike gevangenes het die vertoning bygewoon. Die volgende dag is die fliek aan nog 130 tronkbewaarders vertoon.
Die atmosfeer was van die begin van die vertoning af gelaai en die gehoor was letterlik, vir die hele fliek lank, vasgenael en op die punte van hulle stoele. Teen die einde van die film, was daar nie ’n droë oog in die vertoonlokaal nie.
John Fredericks die skrywer, Daryne Joshua die regisseur, en David Max Brown die vervaardiger, het tydens die geleentheid die gehoor se vrae beantwoord. Gevangenes het komentaar gelewer oor die egtheid van die fliek en gesê dat dit hulle geïnspireer en hoop gegee het vir hulle eie drome en doelwitte.
David Manuel, een van die hoofkarakters in die fliek wat op parool was tydens die verfilming, was ook tussen die gehoor tydens die eerste vertoning by die gevangenis. Hy was geklee in die geel uitrusting van ’n verhoorafwagtende gevangene. Hy is ’n paar maande gelede deur die polisie vasgetrek vir ’n oortreding, maar het ontken dat hy enigiets daarmee te doen gehad het. Gelukkig het sy saak vroeër in die week voorgekom en is die aanklagte teen hom teruggetrek. Wanneer hy dus die fliek weer sien, sal hy ’n vry man en volwaardige akteur, met ’n hoofrol in ’n nuwe plaaslike film, wees.
Die vertoning is moontlik gemaak met behulp van finansiële bystand deur die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF) en is ondersteun deur Ster-Kinekor, NICRO en die vertoningsmaatskappy, AV-Direct, wat elkeen van die drie dae laat voel het soos ’n regte teater-uitstappie. Die projekbestuurder, wat met NICRO en Pollsmoor geskakel en alles moontlik gemaak het, is Wisaal Abrahams.
Die film wat afspeel op die Kaapse Vlakte en in Pollsmoor-gevangenis is gebaseer op die lewe van draaiboekskrywer John W. Fredericks.
Noem My Skollie is ’n grootskerm-rolprentervaring wat kykers sal meevoer na ’n wêreld op die Vlaktes wat nog nooit op so ’n outentieke manier uitgebeeld is nie en is deurlopend onderhoudend en vermaaklik en lewer ’n gewedlige sterk emosionele impak. Die fliek dra die temas van vriendskap, verraad, vergifnis, aanvaarding, die behoefte aan ’n beter lewe, hoop en liefde oor. Die titel van die film sinspeel op die ou gesegde dat ’n mens niemand op hulle voorkoms moet oordeel nie en bevorder die opvatting dat elkeen ’n talent het, selfs al is dit somtyds moeilik om te vind en is daar moontlik ‘n prys daaraan gekoppel.
Noem My Skollie is vervaardig deur David Max Brown en Moshidi Motshegwa (Maxi-D Productions) in samewerking met M-Net, kykNET, die NFVF en die DTI en word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei. Die fliek première by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai op die 24ste Augustus 2016 om 20h00.
Kyk die lokprent hier: YouTube Lokprent