Models Unlimited spog met nuwe eienares
Meriska Venter volg haar drome en glo sy gaan ‘n positiewe impak op die studente by Models Unlimited hê
Meriska Venter is lief vir lees, dink in prentjies en streef daarna om voornemende bruide hul sprokiestroues te gee.
As gekwalifiseerde troue beplanner met kwalifikasies in menslike bestuur, voorsieningskettingbestuur en logistiek agter haar naam is sy ‘n sakevrou om mee rekening te hou.
Min mense kan sê hulle het vlak voor die uitbreek van die Covid-pandemie ‘n besigheid begin wat na al die inperkings steeds van krag tot krag gaan, maar dis presies wat met Meriska se Royal Swan Bridal Boutique gebeur het.
Hier kan voornemende bruide ‘n verskeidenheid van ontwerpersrokke sien, elkeen uniek en pragtig in eie reg.
Ek wil bruide help om hulle bewus te maak van alle ontwerpers en hoe die ontwerpers se harde werk lyk, alles onder een dak. Daarna ondersteun ek die ontwerpers deur die bruide na hulle te verwys,
| vertel sy.
Die ideë vir hierdie besonderse boetiek het gekom nadat sy in 2019 met haar lewensmaat, Armando, getroud is.
Ek het die mooiste rok gehad en het gewonder wat om na die troue daarmee te maak. My man se raad was, ‘pop die rok’,
| onthou sy.
Vandag is daardie einste trourok die eerste een wat die oog vang wanneer Royal Swan betree word.
Vir Meriska is haar geloof baie belangrik. God staan eerste in haar lewe en in haar besluite.
Ek het in 2013 al besluit om my eie besigheid te begin, maar ek wou seker maak dis die regte een en het sewe jaar gebid voordat dinge in plek geval het.
Met Royal Swan goed op dreef het Meriska besluit om ‘n verdere besigheidsavontuur aan te pak.
Sy is nou ook die trotse eienaar van een van die bekendste modelskole in die Vaal, Models Unlimited.
Sy het haar opleiding en afrigterskursus met lof geslaag en is baie trots daarop dat die stigter van Models Unlimited, Renita Lombard haar diploma aan haar oorhandig het.
Sy sien uit daarna om ‘n positiewe impak op elke student by die modelskool te hê.
Vir haar gaan dit nie oor kompetisie nie, maar dat elkeen hul beste moet gee. Sy voel dat besighede mekaar ook moet help en ondersteun.
Sy het ‘n oop hand en hart vir ander en het vele mense deur die pandemie-tyd gehelp.
Meriska is ma van drie seuns en geniet dit om saam met haar gesin by die see te gaan ontspan.
Haar lekkerste tye is egter wanneer die hele familie in die Bosveld bymekaarkom en hul om ‘n kampvuur na haar pa se stories kan luister.
Artikel deur Vaalweekblad verskyn
en het oorspronklik in die