Meisie (7) kry nie behandeling,weens stukkende masjiene!
Meisie (7) kry nie behandeling nie weens hospitaal se stukkende masjiene

Adeline du Plessis glimlag moedig terwyl sy al tien dae wag op ‘n operasie om haar gebreekte arm te herbelyn
‘n Sewejarige meisie van Vanderbijlpark, Adeline du Plessis, lê al 10 dae sonder behandeling in ‘n staatshospitaal in Kroonstad nadat sy op 15 Maart geval en haar linkerarm sleg gebreek het. Penne moet in die arm ingeplaas word, maar die hospitaal se x-straalmasjien is buite werking. Die hospitaalteater funksioneer tans nie behoorlik nie en hulle het ook nie nou die nodige chirurgiese penne om in haar armpie te plaas nie.
Na verwagting sal die operasie eers oor ‘n maand gedoen kan word. Intussen vrees haar ouers dat die Adeline se gebreekte arm verkeerd gaan aangroei.
“Ons probeer nou ons bes om befondsing op BackaBuddy te kry sodat ons haar na ‘n privaathospitaal kan laat oorplaas,” sê haar bekommerde ma, mev. Elize du Plessis.
Enigiemand wat ‘n bydrade wil maak om Adeline so gou as moontlik na ‘n privaathospitaal in die Vaaldriehoek te laat oorplaas, kan ‘n inbetaling doen aan F. du Plessis, Nedbank-tjekrekening, 1265044236.
Deur Retha Fitchat en het oorspronklik in die Vaalweekblad verskyn