Marlene se nierstene is verwyder maar land pad lê nog voor
Marlene Taylor het verlede Donderdag ‘n lewensreddende prosedure in ‘n privaathospitaal ondergaan danksy die bydraes van die publiek en ‘n individuele skenker.
Marlene was sedert die begin van Julie in intense pyn omdat die gesin nie die sowat R100 000 vir die operasie in ‘n privaathospitaal kon bekostig nie, en staatshospitale doen tans weens die Covid-inperking nie sulke prosedures nie.
Die nierstene het veroorsaak dat haar niere swel en hoewel “stents” tydens ‘n vorige prosedure ingeplaas is om urienvloei te vergemaklik, het sy toenemend pyn gehad.
Danksy vriende wat insamelings deur die groep Marlene’s Hope en Back-a-Buddy geloods het, sowel as ‘n anonieme donateur wat vir die grootste deel van die operasie betaal het, is die nierstene toe Donderdagoggend in die Midvaal Privaat Hospitaal met laser stukkend geskiet en verwyder.
Alles het goed gegaan tot Vrydagaand toe Marlene onverwags ‘n koors van 38.3 grade ontwikkel het. Teen Saterdag was dit 38.6.
Lees ook: Plaaslike student veg om haar lewe teen nierkwaal
‘n Sonar is gedoen en x-strale geneem, bloed is getrek en ‘n Covid-toets gedoen, maar al die uitslae was normaal. Die oorsaak van haar hoë koors kon net nie bepaal word nie. Teen Sondag het dit geklim tot 39.3 en sy moes heeltyd aan ys suig en afgespons word in ‘n poging om die koors te breek, sê haar ma, Martie.
Lees ook: Vaaldriehoekstudent se mediese krisis vererger
Marlene ontvang tans anti-inflammatoriese middels en ander koorswerende medikasie maar haar temperatuur word steeds heeltyd gemonitor. Nog toetse word daagliks gedoen om die oorsaak van haar hoë koors te bepaal.
Dit is nie lekker om ‘n mens se kind steeds te sien swaarkry nie, maar ons weet dinge gaan van nou af net beter gaan,
sê Martie.
Marlene het gevra dat Vaalweekblad almal wat bygedra het om haar operasie moontlik te maak, namens haar moet bedank. Verskeie sakeondernemings het bygedra en selfs Sassapensioenarisse het van hul maandelikse geld afgeknyp om vir die operasie te help betaal.
Ongelukkig is dit nog nie die einde van die gesin se geldelike uitdagings nie. Marlene sal nog ‘n geruime tyd opvolgbehandeling moet ontvang.
Lees ook: Skenkers maak lewensreddende operasie vir Marlene moontlik
Enigiemand wat nog ‘n bydrae wil maak sodat sy die nodige medisyne en nasorg kan bekostig, is welkom om ‘n inbetaling te maak in haar ma se bankrekening:
Martha Johanna Gibson,
Absa-spaarrekening
Rekening no. 009358245890,
Takkode: 630237.
Elke sent word opreg en uit ons harte waardeer,
sê Martie.
Artikel oorsronklik in die Vaalweekblad gepubliseer. Dele van die artikel is gwysig vir ShowMe Vaal