Kerk stel eerste musiekalbum vry
Met die eerste musiekalbum of EP gebore uit Every Nation Faith City (ENFC) in Potchefstroom, gaan meer mense as net die gemeente kans kry om te smul aan die ryk talent van dié kerk.
Dié EP (Extended Playlist) van vyf liedjies sal vanaf 22 Augustus onder die titel “Vredevors” beskikbaar wees vir voorafbestellings en word op 28 Augustus amptelik bekendgestel.
Eerstejaarskampe van ENFC is al oor baie jare die teelaarde vir talentvolle musiek en van die liedjies wat op dié kampe geskryf is, het later van die gewildste aanbiddingsmusiek van die gemeente geword. Twee van dié liedjies, “Dankie, dankie!” en “Tiekiedraai” word by die EP ingesluit.
“Daar word ook al jare gedroom om ’n musiekalbum vry te stel, maar dit was die inperktyd wat aan dié droom woema gegee het.” So vertel Guilliam Nel, musiekpastoor van ENFC en spanleier van die projek. Lede van die musiekspan kon in die inperktyd net deur middel van sosiale media met mekaar kontak hou.
Die idees het begin rondvlieg en nog musiek is geskryf. ’n Lid van die groep het een van dié liedjies vir iemand in die gemeente gespeel. Hy was so opgewonde daaroor dat hy die opname van vyf liedjies by Hoogtepunt Studio in Potchefstroom geborg het.
Johan Viljoen van Hoogtepunt werk gewoonlik met bekende Afrikaanse groepe, maar baie van hulle is in die Kaap en die studio was beskikbaar. Die musiekspan moes letterlik in twee weke se tyd alles agtermekaar kry. Guilliam vertel dat hy een van die liedjies een nag drie uur in sy ouma se woonstel geskryf het!
ENFC is bevoorreg om van die beste musikante in Potchefstroom tot hulle beskikking te hê en hulle sing die liedjies op die album. Hendri Hofmeyr is lid van die Afrikaanse gospel rockgroep, One Crown, wat in 2012 ’n Ghoema-toekenning gewen het.
Perseverance Mkonto het in 2018 by die Pukki Talentfees die ATKV-prys as mees belowende kunstenaar gewen.
Sy was ook twee jaar ’n finalis tydens die Talentfees en in 2015 ’n kategoriewenner.
Guilliam Nel is die musiekpastoor van ENFC en het aan die Oral Roberts Universiteit in die VSA studeer. Ander kunstenaars is Kobus Mostert en Jacques Olivier, terwyl Charmoré Nel saam met Guilliam en Jacques uitvoerende vervaardigers was. Guilliam het ook die musiekverwerkings gedoen.
Die snitte op “Vredevors” is gekies en geskryf met kerke en gemeentes in gedagte, sê Guilliam. “Die liedjies is gemeenskaplike saamsingliedjies.” Met “Vredevors” wil hulle ook in die groot behoefte aan Afrikaanse aanbiddingsmusiek voorsien.
“Vredevors” sal beskikbaar wees op 30 verskillende musiekplatforms, onder meer iTunes, Apple Music, Spotify, Youtube, Instagram en TikTok.
Volg hulle op Instagram en Facebook
Artikel geskryf deur Dr. Lennie Gouws en oorspronklik in die Potchefstroom Herald gepubliseer.