Huldeblyk: Ons groet Franz Marx: Baanbreker, storiemaker en onbetwiste koning van sepies
Ons gaan jou leiding, jou liefde en jou humorsin geweldig mis.
– Leon van Nierop
Die alombekende skepper van televisiereekse soos Egoli, Agter elke man (sal ons ooit Tant Stienie en Bruce Beyers vergeet?) en Skooldae, Franz Marx, is Sondag, 26 September 2021 oorlede weens nagevolge van covid-19 wat hy ‘n rukkie gelede opgedoen het. Hy was 79.
Franz Marx se loopbaan het in 1968 as akteur begin. Ons onthou rolprente soos Jy is my liefling teenoor Min Shaw, Sien jou môre, Jakkalsdraai se mense, Die vlindervanger en nog vele ander. Daarna het hy bekendheid verwerf as regisseur, skrywer (sy debuut-spanningsroman, Spieёlbeeld, het einde 2017 verskyn) en natuurlik as draaiboekskrywer en vervaardiger. Die bekende resensent en skrywer Leon van Nierop skryf op die Facebookgroep Nagkantoor dat Franz ‘n boek oor homself en sy loopbaan verdien. In Van Nierop se woorde: “Hy was een van die pioniers wat veral onder Albie Venter en Madel Venter reekse en films gemaak het – ook vir Elmo de Witt. Alles wat ek van sepie-skryf geleer het, kom van hom. Hy het almal van ons geleer wat om te doen en wat om nie te doen nie. ‘n Mens kon altyd sy raad ter harte neem. Sy persoonlikheid, die wyse waarop hy kritiek gegee het, sy skrywerstalent, sy skeppingsvaardighede, die wyse waarop hy met ander skrywers gewerk het … was merkwaardig. Wat ‘n verlies. ‘n Grote is weg.”
Hy laat sy broer en skoonsuster, sy seun, sy dogter en ‘n kleinkind agter.
Afrikaans.com en ShowMe Vaal betuig ons innige meegevoel met sy geliefdes.
Hierdie huldebleik is deur en het oorspronklik verskein in afrikaans.com