Hanna Boss stel musiekvideo vir VERF JOUSELF bekend!
Hanna Boss se enkelsnit, Verf Jouself, is gedurende Oktober 2017 uitgereik en kan reeds oor die klankgolwe van radiostasies landswyd gehoor word! Hierdie splinternuwe treffer sal ook beskikbaar wees op haar album wat die rakke gedurende Februarie 2018 sal tref!
Verf Jouself is ’n moderne Afrikaanse Popliedjie, met inspirerende lirieke en ’n tikkie klassieke musiek vir ’n meer gesofistikeerde klank. Hierdie enkelsnit vind beslis aanklank by gehore van alle ouderdomme en die meesleurende wysie nooi luisteraars om lekker saam te sing.
Die musiekvideo is in ‘n donker studio geskiet. “Kleur en lig speel ’n baie belangrike rol in die video. Ons het ook gebruik gemaak van balletdansers om die klassieke instrumente in die liedjie te komplementeer. Dit was nogal vir my ’n uitdaging om saam met hulle te beweeg,” vertel sy. Die video is vervaardig deur Fathom Media.
Dié sangsensasie het nog baie planne vir die toekoms en sou graag saam met Corlea Botha wou werk. Wanneer sy nie sing nie, is sy lief daarvoor om op staptogte te gaan, berg te klim, fiets te ry en om tyd saam met vriende deur te bring. “Ek sien myself oor vyf jaar as ’n gevestigde sangeres, met ’n kind of twee, of drie of vier! Ek is baie opgewonde om my stem, klank, styl en stories tot die Afrikaanse Muskiekbedryf te voeg.”
HANNA BOSS se unieke aanslag en borrelende persoonlikheid gaan nog vir haar baie deure oopmaak in die toekoms.
Kyk die video hier: YouTube