Groot seder in Vereeniging val
Michele Coetzer, ’n bekende inwoner van Vereeniging en bestuurder van Brandmuller’s Garden Pavillion in Unitaspark, het op 53-jarige ouderdom die stryd teen kanker verloor.
Michele is Maandag, 5 Oktober oorlede.
Sy sal onthou word as ‘n kwekerybestuurder, maar ook vir haar betrokkenheid by talle plaaslike liefdadigheidsinisiatiewe en dit wat sy vir voedingskemas en die Dierebeskermingsvereniging (DBV) gedoen het.
Volgens haar familie is Michele in Meimaand met gevorderde kanker van die lae buik gediagnoseer.
Haar toestand het oor die afgelope paar maande versleg.
Michele het by Selborne Primary School en Arcon Park Primary School skoolgegaan en het in die tagtigerjare aan Riverside High School – waar sy die onderhoofmeisie was – gematrikuleer.
Sy het danksy ’n studiebeurs van Eskom aan ’n technikon in Durban (vandag die Durban University of Technology) in tuinboukunde studeer en aan die begin van haar loopbaan die kragreus se tuine by Megawatt Park in Johannesburg in stand gehou.
Op 24-jarige ouderdom het sy by Brandmuller’s Garden Pavillion, wat deur haar ma, Friedel Coetzer (73) besit word, begin werk.
Haar familie beskryf haar as iemand wat saggeaard was, ’n klein hartjie gehad het, maar terselfdertyd baie hardkoppig kon wees en gestaan het vir dit waarin sy glo.
Sy het gehelp waar sy kon en altyd haar beste gegee. As jy haar gevra het om iets te doen, het sy drie, vier of vyf keer meer gedoen as wat daar van haar verwag is,
vertel Arthur Norman, haar goeie vriend.
Cousin Rick Emden, ’n plaaslike platejoggie van IFM Radio 102.2 FM, het in ’n huldeblyk op Facebook gesê Michele sal veral onthou word vir haar bydrae tot die Laerskool Unitaspark se voedingskema wat help om behoeftige laerskoolkinders van die omgewing daagliks te voer.
Sy het ook jaarliks tydens Kerstyd haar tyd opgeoffer om geskenke in winkelsentrums toe te draai om broodnodige fondse vir die plaaslike dierebeskermingsvereniging in te samel.
Sy was vir sewe jaar by hierdie projek betrokke. Michele was ook die meesterbrein agter Brandmuller’s Garden Pavillion se Tree Owl-vlooimarkte wat op die tweede Sondag van elke maand gehou is en waarmee daar geld vir liefdadigheid ingesamel is. Michele word oorleef deur haar ma Friedel, broer Richard, skoonsuster Annie, broerskinders Anneri van den Berg en Richard Coetzer jr., en haar lewensmaat, Arthur Norman.
‘n Gedenkdiens word Vrydag in Johannesburg vir haar gehou.
Deur Christiaan Cloete en oorspronklik in die Vaalweekblad gepubliseer