Gratis velkankerskanderings nou beskikbaar
Op 1 September sal dermatoloë reg oor Suid-Afrika gratis velkankerskanderings doen as deel van die Skin Cancer Foundation of South Africa (SCFSA) se nasionale velkanker-skandering-dag.
Dr. Marc Roscher, een van die dermatoloë wat aan hierdie dag deelneem, sê hulle wil op die dag veral mense uitnooi wat onder normale omstandighede nie velkankerskanderings kan bekostig nie, om deel te neem.
“Velkanker is een van die gevaarlikste kankers wat pasiënte reg oor die wêreld raak, maar dit het die voordeel dat ʼn kenner dit maklik met die oog kan identifiseer. Dit beteken ook ʼn mens kan jou eie vel nagaan vir letsels wat nie voorheen daar was nie of wat nie daar hoort nie.”
Roscher sê die doeltreffendste manier om jou vel gesond te hou, is deur vroeë diagnose en behandeling deur ʼn dermatoloog. Dit is dan ook waarom dermatoloë op 1 September saamspan om hierdie gratis skanderings te doen.
Alle dermatoloë wat aan die dag deelneem, kan by www.skincancerfoundation.co.za gevind word.
Wenke om jou vel teen die son te beskerm deur SCFSA
Die son veroorsaak inflammasie in die vel en te veel blootstelling kan verskeie komplikasies veroorsaak, waarvan velkanker een is. Beskerm jouself só teen die son se skadelik strale:
- Moenie wag tot jou vel rooi word voordat jy sonroom aanwend of ʼn hoed opsit nie. Die meeste sonskade wys eers binne 24 uur ná blootstelling aan die son.
- Dra altyd beskermende klere, ʼn hoed en T-hemp wanneer jy in die son is.
- Selfs 30 minute in die son sonder enige sonbeskerming is te lank.
- Onthou, soos jy na die binneland beweeg, word die son se strale meer intens.
- Vermy dit om tussen 11:00 en 15:00 in die son te wees, want die son se strale is dan op sy felste.
- Moenie vergeet om sonroom aan te wend as dit effens bewolk is nie, veral as jy op die strand is.
- Moenie aan die son blootgestel word as jy dik klere aan het of dik room soos petroleumjellie aan jou vel het nie. Dit verhoed dat vog kan verdamp en verstop porieë, wat ʼn hitte-uitslag kan veroorsaak.
- Moenie slegs staat maak op jou strandsambreel om jou teen die son te beskerm op die strand nie, aangesien dit nie genoeg skadu bied vir jong kinders en oumense met die sterk weerkaatsing van die see af nie. ʼn Strandtent is ʼn beter opsie.
- UVA-strale kan glas deurdring. Mense wat naby ʼn venster sit, is ook kwesbaar om sonskade op te doen.
Artikel geskryf deur Janie Monsieur vir Maroela Media.