Your Favourites
Login / Register
LOCAL TIME: 02:03 am | Thursday, 25 April
ShowMe™ Vaal RSS Feed ShowMe Vaal Facebook Page Follow ShowMe™ Vaal on Twitter

Geoglief kan Koepel-toerisme ‘n hupstoot gee

Die prag foto’s is geneem deur Micha Viljoen van ChaZen.

Vir inwoners van Parys, is die naam Deon TerBlanche nie onbekend nie. Hierdie wêreldklas kunstenaar is dikwels besig om sy kuns in die gemeenskap uit te leef. Hy verweef die stories van die dorp, sy mense en die natuur maklik-maklik saam tot die aller mooiste kunswerke. Sy stories, foto’s, ontwerpe en selfs grondkuns het vir hom al ’n hele paar toekennings besorg.
En sommer-so het Deon weer ‘n nuwe plan. Hierdie keer wil hy ‘n Geoglief bou net hier in die Vredefort Koepel! Een wat die Afrika wildehond of te wel African Painted Dog (Lycaon pictus), ook bekend as die Painted Wolf, Cape Hunting Dog of African Wild Dog, uitbeeld. Hierdie kunswerk sal nie net mooi wees nie – dit hou ’n skatkis in. Een van kuns, natuurbewaring, volhoubare werkskepping, geskiedenis, publieke bewusmaking, die kweek van organiese groente en vrugte en meer.
’n Geoglief is ’n motief wat in groot skaal op die aarde se oppervlak gebou word. Jy sal hierdie tipe kunswerk veral kan waardeer vanuit ‘n vliegtuig, helikopter of selfs ‘n lugballon.
Geogliewe is ‘n antieke kunsvorm, en die oudste een waarvan ons as mens bewus is, is van ‘n reuse eland. Dit is ongeveer 6 000 jaar gelede in Rusland gebou.
Afrika spog reeds met drie, almal in Suid-Afrika. Ons eie wildehond sal die tweede grootste een wees met afmetings van ongeveer 180 x 80m. Na beraming sal meer as 5 000 klippe vanuit die omgewing in hierdie Geoglief gebruik word.
Om die Geoglief op te rig, sal minstens R50 000 kos. “Dit is ongelukkig so dat projekte soos die geld kos,” gesels Deon.
“Al 5 000 plus klippe moet versorg word. Dit word geverf met ‘n kalk-, sout- en slym mengsel. Dit word op die perseel gemaak en daarvoor is sementmengers nodig. Al die materiale en die masjienerie kos geld.”
Toe ek oor die projek begin droom het, vertel Deon, het ek weer die “crowdfunding” roete gekies. Dit wil net nie behoorlik aan die gang kom nie. “Ek het maar gedink dit is omdat almal dink dis al weer daardie mal kunstenaar en sy vreemde planne,.” lag hy. ‘n Vriendin het egter opgemerk dat mense nie so vertroud is met hierdie tipe befondsing nie, veral nie in ons nederige klein Vrystaatse dorpie nie.
Heelwat mense wat van die projek hoor, vra dadelik waarom? Waarom soveel geld gebruik vir ‘n kunswerk? Is so ‘n konstruksie nie nutteloos nie? Die teendeel is egter waar.
“Ek het behoorlik huiswerk gedoen,” vertel Deon. “Hierdie Geoglief kan vir ons gemeenskap geweldig baie beteken. Verskeie rolspelers is betrokke en elke moontlike kenner is gevra vir insette. Heelwat organisasies raak betrokke, maar fondse en die nodige vrywilligers kort nog.” ChaZen, ‘n plaaslike Natuurbewaring & Opleidingsentrum, is onder meer baie nou betrokke by die projek. Hulle is bekend vir die teel van die wildehonde in die plaaslike omgewing. Eienaar, Joe Viljoen, is ‘n bekende natuurbewaarder. Met die hulp van sy twee seuns, Micha en Zen, bestuur hy ChaZen.
Joe se passie vir wild in Afrika is aansteeklik. Hy is persoonlik ‘n eindelose bron van inligting oor alle bedreigde Afrika spesies en ‘n gereelde kuiergas by CNN.
Gereelde besoekers aan die Geoglief sal ‘n inkomstestroom verseker, spesifiek vir gebruik vir die bewaring van wildehonde. Die Geoglief word opgerig binne-in die Vredefort Koepel. Die eienaars van die Dog & Fig Brewery het spasie op hulle perseel gratis beskikbaar gestel vir hierdie wonderlike projek. Net soos ChaZen, besef hulle wat die waarde is van so ‘n Geoglief in ons gemeenskap.
Die kunswerk sal nuwe geleenthede skep vir toergidse met die lyne van die Geoglief wat uiteindelik ‘n staproete sal vorm. Die roete sal ongeveer 8 kilomerer lank wees. Op die roete sal besoekers meer kan leer oor wildehonde en ander bedreigde Afrika- spesies. Boesmantekeninge en merke word in die Geoglief opgeneem en as deel van die staproete geïnkorpireer.
Hierdie Geoglief sal ook verseker dat nuwer elemente gevestig word, maar alles as deel van die groter geheel. ‘n Mini-opleidingsentrum is reeds geïdentifiseer en word ingerig en beman deur die ChaZen-span. Die staproete word aangevul met ‘n meditasie-roete. ‘n Antieke doolhof met ‘n fontein, spesifiek vir kinders. ‘n Geskenkwinkel, bergfietsroete en grondkuns uitstallings, asook ’n werkswinkel kan verwag word.

Foto: Micha Viljoen, ChaZen.

Omdat die Geoglief nie net uit klippe bestaan nie, maar ook verskeie ander natuurlike elemente gebruik, hou dit selfs meer voordeel in. Een belangrike natuurlike element is koswoude. Dit is ‘n groep vrugte of groenteplante wat saam in die vorm van ‘n mini-woud geplant word. Hierdie plante dra organiese vrugte en groente, terwyl dit die kolle van die wildehond uitmaak – slegs sigbaar vanuit die lug.
Soos wat seisoene verander, sal die kleure en vorms van hierdie koswoude ook verander en dus die altyd-veranderende kolle van die wildehond akkuraat voorstel. ‘n Natuurlike watersuiweringsprojek word deur plaaslike kenners beplan. Dit sal binne-in die Geoglief gebruik word. Water vanaf die rivier sal deur handgemaakte vore en damme vloei.
In hierdie damme word plante en visse natuurlik ingespan om te verseker dat water binne-in die Geoglief suiwer is, en deur mens en dier gedrink kan word. Hierdie water sal ook die organiese koswoude onderhou.
Wanneer mens na Deon luister, wat met passie oor hierdie groot kunswerk gesels, kan jy nie anders as om verslae te staan nie. Deon het ter harte die estetika van die gemeenskap, maar soveel meer. Hy wil graag sien hoe elke projek wat ons as gemeenskap aanpak vir elkeen voordeel inhou. Oud, jonk, mens, dier en elkeen ten volle deel van die verloop van hierdie lewe.

As jy by hierdie projek wil betrokke raak, kontak gerus vir Deon TerBlanche by deon@deonterblanche.co.za en steek jou hand op om die wêreld te verander.

Hierdie artikel is geskryf deur Dalene Vermeulen en verskyn oorspronklik in die Parys Gazette




Book your accommodation right here on ShowMe.

You can find the top hotels, lodges and Airbnb establishments conveniently placed on the map below. All you need to do is click on the place that’s conveniently located and within your budget and then make a booking. What could be easier?


If the map is not where you want to be, click on the ShowMe Pin and then enter the exact name of the location and the map will adjust accordingly.





UA-96834638-1