Hierdie inisiatief was die gevolg van ’n opname wat onder NWU-studente gedoen is, van wie ʼn groot hoeveelheid aangedui het dat hulle ’n dringende behoefte aan toestelle en toegang tot data ervaar.
Op 23 Junie is amper 1 700 skootrekenaars reeds met sukses per hand by die studente afgelewer. Ten minste 23 267 studente het reeds voordeel getrek uit die data wat aan hulle verskaf is, en sommige het meer as een keer data ontvang.
Die NWU sê hoewel die verspreiding van skootrekenaars vroeg in Mei reeds begin het, die proses gekniehalter is deur die uitdagings om die korrekte adresse te bevestig van ontvangers wat kwalifiseer en om die studente in afgeleë gebiede op te spoor. Die persoonlike omstandighede van sommige studente het intussen ook verander en hulle het dus nie meer skootrekenaars nodig gehad nie.
Die NWU is een van die eerste instellings vir hoër onderrig om ná president Cyril Ramaphosa se aankondiging oor die staat van inperking aan die einde van Maart hierdie jaar aanlyngebaseerde onderrig en leer te konseptualiseer en te implementeer.
Aanvanklike projeksies het aangedui dat ten minste R30 miljoen nodig sou wees om aanlyn onderrig en leer by die NWU in werking te stel, hoewel verwante koste – soos verwag is – die hoogte ingeskiet het. Dit het die NWU genoop om vanaf 1 Mei ’n NWU Covid-19-reaksiefonds te loods om bykomende fondse en voorafgebruikte skoot- en tabletrekenaars in te samel.
Die NWU sê hy maak ook op die integriteit van studente staat om te verseker dat skootrekenaars en data die kwesbaarstes onder sy studentegemeenskap bereik.