Your Favourites
Login / Register
LOCAL TIME: 08:29 am | Thursday, 25 April
ShowMe™ Vaal RSS Feed ShowMe Vaal Facebook Page Follow ShowMe™ Vaal on Twitter

Die Wes-Kaap blom soos 14 jaar gelede

“Dit is ’n kaleidoskoop van kleur wat ontplof het, asof God sy saadpot oor die hele Namakwaland uitgegiet het.”

So beskryf Zebolun Ricardo, ’n toeroperateur vir Zebulon’s Guided Tours, vanjaar se blommeprag in die Wes-Kaap, ná goeie winterreëns oor groot dele van die Wes-Kaap.

Vanjaar se blommeprag is iets besonders. (Foto: Namakwa Toere)

Volgens Mike Spies van Namakwa Toere het hulle die beste reën in 14 jaar gehad.

“Die winterreënvalstreek het orals reën ontvang, daar was nie ’n plekkie wat nie reën gehad het nie.”

En die reën is nog nie verby nie. Daar word nóg reën vir die komende week van 14 tot 17 September voorspel.

Volgens Mike beteken elke druppel “geweldig baie vir die veld”, maar ook vir die toerismebedryf.

Vir Namakwaland se toerismebedryf wat staatmaak op ’n seisoentydperk van maksimum twee maande elke jaar, is ’n moontlik langer blommeseisoen vanweë die goeie reëns vanjaar ’n groot seën. Boonop het vlak 2 van die nasionale staat van inperking op 18 Augustus in werking getree, en het reisigers van oral af die blomstreke kom besoek – soveel so, vertel Mike, dat oornagplekke volbespreek was.

Zebulon sê hulle voel ook die ekonomiese uitdagings wat vanjaar se pandemie voortgebring het, asook die onsekerheid wat die toestroming van besoekers meebring.

“Soveel soos wat ons opgewonde is om weer te kan rondreis, is ons ook maar baie skrikkerig, want ons weet nie of daar mense uit Limpopo of die Kaap opdaag wat die koronavirus onder lede het nie. Weens die nasionale geldnood kom baie mense op hul eie, du kry ons as die toeroperateurs wat die gebied ten harte ken, nie die voordeel van hulle besoek nie.”

Maar as bekende storieverteller meen Zebulon dat as daar ’n storie is wat hy vandag kan vertel, sal dit gaan oor dankbaarheid.

“Daar is so baie stories wat mens oor Namakwaland kan vertel; my hart is net baie gelukkig dat ons ná agt jaar weer goeie reën kon ervaar. Die dankbaarheid spreek van die antie wat die roosterbroodjie op die hoek verkoop, die oom wat die skoen regmaak, tot selfs die outjie wat ’n donkiekarrit wil verkoop.

Nou vir die blomme: kom ons toer

Dis die wilde aster, die satynblom, feëklokkies en geel hongerblomme. Dan ook die Namakwalandse daisies en die pienk aandblom, om maar ʼn paar van die juwele in die Namakwa-blommeryk te noem.

Pienk aandblom, Sterretjies en Weeskindertjies staan in plate saam. (Foto: Namakwa Toere.)

Zebulon neem ons na Springbok, dan die Kamiesberg en Skilpad.

“Dit is waar van die mooiste blomme vanjaar is. Dit is nie net jou gewone blomme soos daisies nie – hierdie jaar het ons die viooltjies, die kapperblommetjies, die pietsnot, die varkiesknol…” noem Zebulon die soorte op.

Dan na Leliesfontein wat nog tot onlangs sneeu gekry het. Mike vertel die voeding wat die velde uit die sneeu kry, is nie nadelig vir die blomme nie, en veroorsaak eerder dat die blomme baie langer hou.

Al langs die Weskus, verby Garies na Vanrhynsdorp waar die blomme steeds te sien is. Swenk jy na regs, neem die pad jou na Vredendal.

Oor Vredendal vertel Mike: “Die viooltjies staan in hul duisende, as dit nie miljoene is nie – dit is ’n gesig wat mens nie elke jaar sien nie. Daar is sulke spesiale natuurverskynsels wat in jare soos vanjaar plaasvind.”

Sou jy by Vanrhynsdorp na links draai, ontdek jy Nieuwoudtville en sy blomme. Daar kan jy ook die Kokerboomwoud, die Nieuwoudtville-waterval op die Loeriesfonteinpad, asook die gletserspore besoek.

En neem jy die pad na die Noord-Kaap, Transvaal, of na Kaapstad, is daar blomme in elke rigting; O’Kiep, Matjiesfontein, en al langs die Weskus tot in Kaapstad

Kokerboomwoud van Nieuwoudtville is nog ‘n plek wat jy eenvoudig moet gaan besoek. (Foto: Zebulon Ricardo.)

Mike se blomkykwenke:
  1. Jy kyk nie blomme uit jou kar nie. Jy stop, en kyk nie net na die plate blomme nie, maar na die verskeidenheid van blomme. Let op na die uniekheid van elke blom, buk af en ruik daaraan.
  2. Die son moet verkieslik agter jou lê wanneer jy ry om blomme te gaan kyk, dus gaan jy meestal in ’n suidelike rigting ry, en laatmiddag in ’n oostelike rigting, want die blomme kyk na die son.
  3. Dra ’n sonbril. Jy sien die blomme baie beter mét ’n sonbril as sonder een.
  4. Kies die regte tydgleuf in die dag. Jy soek ’n warm dag vir blommekyk. As jy te vroeg gaan, gaan die blomme nog nie oop wees nie. Die beste temperatuur wanneer die blomme oopmaak, is by sowat 18 ˚C. Jy wil ook blomme gaan kyk wanneer dit nie reën nie.

Buiten vir die asemrowende blomme wat elke jaar in Namakwaland pronk, vertel Mike dat vanjaar se blomme ten minste twee weke later as die afgelope 10 tot 15 jaar is.

“Gewoonlik het Vanrhynsdorp se blomme teen middel Augustus lankal uitgeblom, maar teen laat Augustus was daar nog plate en plate blomme in die gebied.”

Mike is versigtig om te sê tot presies wanneer die blomme vanjaar gaan blom, maar meen dit kan tot einde September wees.

“Gewoonlik is ’n goeie tyd om blomme te kyk tot middel September, maar dan sal jy die blomme moet gaan soek, en dit gaan nie orals wees nie. Maar hoe die veld en die weersomstandighede tans lyk, kan ons nog tot einde September blomme hê, gegewe dat ons nie ’n hittegolf kry wat die blomme almal doodmaak nie.”

Nieuwoudtville se waterval. (Foto: Namakwa Toere.)

En indien jy nóú besluit om blomme te gaan kyk, herinner Mike ons aan C. Louis Leipoldt se gedig, “Oktobermaand”.

Viooltjies in die voorhuis –

Viooltjies blou en rooi!

Viooltjies orals op die veld,

En orals, ai, so mooi!

Dit is die maand Oktober,

die mooiste, mooiste maand!

Kyk na elke individuele blom. Hier is die Bokhorinkie. (Foto: Namakwa Toere.)

Kontakbesonderhede:

Mike Spies – Namakwa Toere, marne@namakwatoere.com, +27(0)82 896 6444
Zebulon Ricardozebulontafari@gmail.com, FaceBook

Artikel geskryf deur Eunice Stoltz en oorspronklik in Maroela Media gepubliseer




Book your accommodation right here on ShowMe.

You can find the top hotels, lodges and Airbnb establishments conveniently placed on the map below. All you need to do is click on the place that’s conveniently located and within your budget and then make a booking. What could be easier?


If the map is not where you want to be, click on the ShowMe Pin and then enter the exact name of the location and the map will adjust accordingly.





UA-96834638-1