Dié kunsuitstalling laat jou met ander oë na boeke kyk
“Nuwe hoofstuk” is die titel van drie plaaslike vrouekunstenaars se kunsuitstalling wat die naweek aanlyn deur die NWU Galery geopen word.
Die kunswerke van Elna Venter, Marna de Wet en Jean Lampen word heel gepas op Vrouedag, Sondag, 9 Augustus vir die eerste keer aan die publiek bekend gestel. Die skakel na die uitstalling se aanlyn katalogus sal teen 12:00 op die sosiale mediaplatforms van die NWU Galery gedeel word.
Elna Venter is die aanvanklike inspirasie agter dié uitstalling. As kunstenaar werk sy graag met gevonde objekte wat sy in ‘n collage saamstel. Sy is gedurig op die uitkyk vir nuwe materiaal waar sy ook al gaan – ‘n ou doilie, geroeste skêr, sade, stokkies, porseleinskerwe en geskeurde of gebrande lap kry nuwe betekenis in haar kunswerke.
Sy stap gereeld en een middag sien sy op haar roete bokse vol ou boeke wat ‘n handelaar in tweedehandse boeke op sy sypaadjie vir die herwinners uitgesit het. “Die eerste boek wat ek optel was verruklik! Dit was ‘n Hollandse boek met godsdienstige leerstellings. Die rugkant was met die hand gewerk en die boek het ‘n gespe en ou knoop gehad wat dit toegebind het. Ek het dadelik die mooiste boeke uitgesoek, want ek het geweet ek sal dit weer in ‘n kunsprojek kan gebruik,” vertel Elna. Sy het toe Marna en Jean genader en hulle was gretig om saam te werk.
Met dié uitstalling lewer die drie kunstenaars kommentaar oor boeke wat lankal nie meer as die heiligdom van kennis beskou word nie. Inligting word deesdae binne sekondes met net die druk van ‘n knoppie versamel.
Boeke verskil van digitale informasie omdat dit emosionele en tasbare herinneringe oproep: “Jy kan die tekstuur van ‘n boek voel wanneer jy dit vashou, jy ruik die papier en jy kyk na mooi prente. Ons verstand word aangewakker deur die gedrukte bladsye en die tasbaarheid daarvan skep ‘n intieme verhouding daarmee,” sê Elna.
Vir die kunstenaars het die transformasie van ‘n boek na ‘n kunsobjek nie net te doen met herwinning nie, maar is dit ook ‘n proses van idees, beelde, teks en tekstuur uit die kulturele verlede wat nuutgeskep word.
Elke kunstenaar het in hulle werke die tema verskillend benader. Elna se kuns bestaan uit ‘n reeks collage kunswerke waarin sy gevonde objekte ook gebruik. Sy gebruik ‘n boek waarop sy ‘n kunswerk skep wat uit gevonde objekte en uitknipsels van prente bestaan. Sy het ‘n onderbewuste aanvoeling vir kleur, tekstuur en komposisie wat aanpas by die temas van elke kunswerk.
Sy geniet die skep van die kunswerk net so veel as die uiteindelike produk wat sy tot stand bring: “Ek geniet elke oomblik om iets te skep wat nie voorheen bestaan het nie,” sê sy.
Jean kry haar inspirasie weer uit amber gefossileerde hars) wat insekte en mikro-organismes oor duisende jare vasgevang het en wetenskaplikes vandag toegang gee tot spesies wat lank gelede geleef het. Die amber kan met boeke vergelyk word wat inligting weer vir dekades lank vasvang.
Sy gebruik afbeeldings wat sy in hars (rezin) vasvang. Die beelde in hars kommunikeer met die titels of teks van die boeke.
Marna het weer uitsluitlik die buite- en binnekant van boeke se omslae gebruik om op te skilder. “Die omslae van die boeke het vir my soos ou skilderdoeke gevoel en ek het dadelik gedink ek moet dit so gebruik,” sê sy. In sommige omslae het die binnekant haar aan ou muurpapier herinner. Sy maak veral van kontras gebruik en gebruik die konsepte van oud en nuut, “vintage” en modern, beweging en statiese, kragtigheid en broosheid, asook die voltooide en onvoltooide in haar skilderye. Sy speel ook met die Engelse gesegde van “Judging a book by it’s cover” en skilder met opset figure wie se identiteit nie bekend gemaak word nie.
Dié konsep is in kontras met die gesegde dat jy ‘n karakter opsom deur ‘n persoon net een keer te aanskou.
“Nuwe hoofstuk” is beslis ‘n visuele plesier vir die oog, maar nooi die aanskouer om na te dink oor die geskiedenis en toekoms van boeke as simbole van kennis en vreugdevolle oomblikke wat vasgevang word.
Die uitstalling duur tot Woensdag, 9 September. Besoek Sondag om 12:00 die volgende platforms om die skakel na die aanlyn katalogus te kry op FaceBook of Instagram
Artikel geskryf deur Potchefstroom Herald geplaas.
en oorsproonklik in die