Die Kruistog: Dorp se sportgronde weer netjies gemaak
Vir jare is die toestand van Vredefort se sportgronde ‘n seer in die oog van inwoners van dié dorp, maar nie meer nie!
Danksy ‘n groep vrywilligers en ‘n span werkers is daar verlede week Donderdag begin om die gras op die terrein te sny, bome te snoei, vullis weg te ry, en die geboue op die terrein te verf.
Die skoonmaakaksie is gedoen met die doel om die sportgronde en dorpsingange netjies te kry vir Die Kruistog – ‘n unieke Paasfees-belewenis wat gemeentes van Vredefort op 15 April in die dorp aanbied.
Met Die Kruistog sal mense van Vredefort, Parys, Koppies, Kroonstad, Potchefstroom en Viljoenskroon geleentheid kry om die kruis op te neem en ‘n roete in die prag natuurskoon van die Vredefort Koepel te stap.

Die skoonmaakaksie het behels dat rommel verwyder is, die geboue geverf is, gras gesny en bome gesnoei is.
‘n Vlot sal die stappers vooruitgaan op die staproete, en as dit nie moontlik is vir jou om die roete self te stap nie, sal daar oop voertuie beskikbaar wees waarop jy die roete kan meemaak. Dit beloof om ‘n besondere belewenis van die Paasgebeure te wees.
Nooi jou vriende en familie om die dag saam te kom geniet. Daar is ook ‘n piekniek geleentheid vir familie samesyn.
Vir meer inligting oor Die Kruistog kan Juan Greeff by 079 874 1860 gekontak word.
As jy verf het wat by jou rondstaan, wat jy dalk nie weer gaan gebruik nie en vir die sportgronde se regruk wil skenk, kan jy vir Johann by 083 626 8103 kontak.
Artikel deur Liezl Scheepers en het oorspronklik in die Parys Gazette verskyn