Die Franse wil ook Afrikaans leer
ʼn Suid-Afrikaner wat al vir 30 jaar in Frankryk woon, Sonya van Schalkwyk-Barrois, het onlangs begin met die heel eerste formele Afrikaans- beginnerskursus wat in die Franse hoofstad, Parys, aangebied word. Dit is in samewerking met die Nederlandse taal- en kultuuronderrigsentrum in die hartjie van Parys, berig die Weslander op 12 Junie 2023.
Sonya het geensins haar liefde vir haar moedertaal in Suid-Afrika agtergelaat nie en het albei haar dogters met Afrikaans as tweede taal in Parys grootgemaak. Sonya is ook die vertaler van die baie gewilde strokiesprente Asterix en Obelix en Kuifie.
Sonya het in 2022 by dié Nederlandse sentrum aan ʼn vertalingswerksessie deelgeneem en sy en die hoof van die sentrum, Ed Hanssen, het oor Afrikaans en die moontlikheid van so ʼn kursus gesels, en die wiel is aan die rol gesit. Daar is verskeie ander akademiese instellings in Europa wat Afrikaans-kursusse met groot sukses aanbied en dit sou dus goed wees om in een van die lande waar ons stamvaders vandaan kom, ook so iets te doen, is daar besluit.
Vanjaar is daar vyf studente wat die Afrikaans-kursus volg en die wonder van tegnologie is dat dit ook aanlyn bygewoon kan word. Die klasse is baie informeel, en daar word baie gefokus om die studente te leer om Afrikaans te praat. Die Nederlandse sentrum waar die Afrikaans-klasse aangebied word, word in samewerking met die Nederlandse ambassade in Parys gehuisves. By hierdie sentrum word daar, benewens die Afrikaans-klasse, Nederlandse taalkursusse, kunsgeskiedenislesings, en ander kulturele aktiwiteite aangebied.
Daar is ook ʼn literêre kafee op die perseel waar daar onder meer vertalingswerksessies aangebied word. Vir die doel van hierdie kursus het Sonya haar eie handleiding en leermateriaal opgestel. Hoe lekker is dit om te hoor dat, onder die wakende oog van die Eiffel-toring, studente nou ook kan leer om ons mooie taal, wat hier aan die suidpunt van Afrika ontwikkel het, te verstaan en te gebruik.
Deur Alita Steenkamp en het oorspronklik in Afrikaans.com verskyn