‘Net genade kan ons deurdra’
As jy lees van miljoene se skade en die swart gebrande veld sien, ruk dit aan jou hart, maar min weet van die ellende van die meer as 20 boere tussen Fochville en Parys wat dag na dag na hul vee moet kyk en nie weet hoe hulle vir dié diere gaan sorg nie.
Baie het alles verloor nadat ‘n see van vlamme in drie groot brande vanaf 11 Augustus ‘n verwoestingspad oor nagenoeg 12 000 ha geloop het. Weiding het tot op die grond afgebrand. Duisende voerbale is vernietig. Vee het doodgebrand.
Voor die brandseisoen is daar al swaar getrek. Die veld was droog. Maar niks kon hulle voorberei op die totale desperaatheid vir voer na die brande vir veral boere in die Fochville-distrik en op die Noordwes- en Gauteng-grens.
Daar is al hulp aangebied. AfriForum het 100 bale voer geskenk en die vervoerkoste gedra, sê Gawie Maritz, voorsitter van die Fochville Brandbeserkmingsvereniging. Verlede week is begin om bale te versprei waar die nood op sy hoogste was. Vanoggend weer word bale gelaai wat vir boere op Palmietfontein afgelaai sal word waar die brand groot skade aangerig het.
Nog 100 bale voer kom danksy Afriforum, sê Sarel van der Wat, insidentbevelvoerder vir die Potchefstroomse en Vaal Eden Brandverenigings se roepgroep 6.
Die Hervormde Kerk het geld bewillig om boere te help met voer. Van oraloor het mense hulp aangbied maar die grootste probleem is om die voer wat aangebied word, hier te kry, sê Maritz.
Vervoer is duur en daar is nog bale voer, waterpype of krippe dringend nodig.
Van der Wat sê die vooruitsig vir boere hier is baie onseker. Plaaslike gemeenskappe is tot ‘n groot mate op hulself aangewese om brande te beveg. Daar is min hulp van regeringskant.
Na die brandverwoesting is minstens twee jaar se goeie reën nodig vir die veld. Baie kuddes is oor jare opgebou en ouer boere het nie meer die tyd om weer hierdie kuddes op te bou nie.
Mense wat kan help kan die volgende nommers skakel:
Sarel – 083284 6392
Annika – 082 771 0147
Gerda – 082 859 6748
Gawie – 082 348 3768
Dankie aan Afriforum, ‘n boer van Magaliesburg wat ‘n vrag tef geskenk het, die Hervormde Kerk en almal wat reeds bygedra of hulp beloof het. Dit word opreg waardeer.
Deur Liezl Scheepers, oorspronklike berig verskyn in die Parys Gazette.