Opvolgberig: Meisie (7) kry nie operasie nie weens hospitaal se probleme
Goeie nuus is dat Adeline intussen teruggebring is na Vanderbijlpark vir ‘n operasie by ‘n privaathospitaal, maar heelwat geld word nog vir haar behandeling benodig.
‘n Sewejarige meisie van Vanderbijlpark, Adeline du Plessis, het die afgelope twee weke sonder behandeling in ‘n staatshospitaal in Kroonstad gelê nadat sy geval en haar linkerarm sleg gebreek het. Chirurgiese penne moet in die arm ingeplaas word, maar weens verskeie uitdagings kon die hospitaal haar nie behoorlik behandel nie.
Haar ma, mev. Elize du Plessis, sê Adeline se linkerarm is Saterdag, 15 Maart, gebreek toe sy geval het terwyl sy op ‘n trampolien gespring het. Dit was gou duidelik dat dit ‘n ernstige fraktuur was en sy is vir ‘n dringende operasie na die Kroonstad-hospitaal oorgeplaas. Haar ouers is die volgende dag ingelig dat die hospitaal se x-straalmasjien stukkend is en dat sy eers vier dae later geopereer sou kon word. Dié dag het egter gekom en gegaan sonder die operasie omdat ander noodsaaklike teatermasjiene ook buite werking is. Boonop het die hospitaal tans nie die chirurgiese K-penne waarmee die fraktuur herbelyn moet word nie.
“‘n Suster het vir ons gesê Adeline gaan nog minstens ‘n maand moet wag, maar daar was geen waarborg dat sy dan wel geopereer sou kon word nie. Sy was baie gefrustreerd en het net Panado vir die pyn gekry. Ons kon niks doen om haar verder te help nie, en hoe langer sy op ‘n operasie wag, hoe meer groei die been in haar arm skeef aan. Ons probeer nou ons bes om befondsing op BackaBuddy te kry sodat ons haar na ‘n privaathospitaal kan laat oorplaas,” het haar bekommerde ma verlede week gesê.
Die goeie nuus is dat Adeline intussen na Vanderbijlpark teruggebring kon word, waar sy deur ‘n privaatdokter ondersoek is en vir deeglike x-strale verwys is. Die operasiekoste gaan R45 000 beloop.
Enigiemand wat ‘n bydrae wil maak om Adeline en haar ouers by te staan, kan ‘n inbetaling doen aan F. du Plessis, Nedbank-tjekrekening, 1265044236. Meer inligting is beskikbaar op die BackaBuddy-veldtog: https://www.backabuddy.co.za/campaign/adeline-7-year-old-needs-operation
Deur Vaalweekblad verskyn
en het oorspronklik in die