Ekonomiese Kommentaar
Monetêre beleid in perspektief
Die onverwagse besluit van die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee (MBK) op 29 Januarie om die repokoers met 50 basispunte te verhoog, dui op ‘n draaipunt in die stand van monetêre beleid. Daar kan met redelike sekerheid aanvaar word dat rentekoerse verder verhoog sal word, maar die tempo waarteen dit sal geskied en die totale omvang van die styging is onseker.
Dié beleidswending bring vyf jaar van verruimende monetêre beleid nader aan sy einde en ‘n terugblik op die dryfvere agter die MBK se besluite gedurende hierdie tydperk is gepas.
Die afgelope vyf tot ses jaar het vele uitdagings aan sentrale banke gestel, veral in die ontwikkelde lande wat hulle midde-in die finansiële krisis bevind het. Sentrale banke in opkomendemarklande, insluitende die Suid Afrikaanse Reserwebank, moes noodgedwonge reageer op die impak wat die internasionale krisis op hul nasionale ekonomieë gehad het.
Hulle is ook betrek by die internasionale koördinering van die beleidsreaksie op die krisis deur middel van die G-20 waarvan Suid-Afrika ook ‘n lid is. Die verwagting was dat lande met ‘n oorskot op hul lopende rekening en/of ruimte aan die fiskale kant binnelandse vraag moes stimuleer om die diepte van die wêreldwye resessie teen te werk.
Dit is dus nie verbasend nie dat internasionale gebeure en risiko’s ‘n groter rol in die Reserwebank se besluitneming begin speel het. Die vraag is egter of die MBK nie soms te ver gegaan het nie – daar was byvoorbeeld ‘n tyd toe die Bank baie klem op die risiko’s vir die Europese ekonomie gelê het (te veel na my mening). Die beleidsbesluite van die Reserwebank maak uiteraard geen verskil aan die uitkoms van hierdie risiko’s nie, terwyl dit moeilik kan wees om beleid reg te stel indien dit geposisioneer is vir ‘n risiko wat nooit realiseer nie.
Uitermatige klem op buitelandse risiko’s kan ook tot ‘n verlies aan fokus lei, met ander woorde dat die onderliggende tendens in inflasie en binnelandse drywers daarvan te min aandag ontvang.
Tesame hiermee was daar myns insiens ‘n verskuiwing in die balans wat die Reserwebank deurlopend handhaaf tussen die bekamping van inflasie en die bevordering van ekonomiese groei en indiensneming ten gunste van laasgenoemde. Hoewel die Reserwebank reeds ‘n buigsame benadering tot sy inflasieteiken gevolg het, het die 2009-resessie om verstaanbare redes so ‘n verskuiwing onvermydelik gemaak. Die traagheid van die ekonomiese herstel nadat die resessie tot ‘n einde gekom het, het verhoed dat die pendulum geredelik kon terugswaai.
Die gevolg was dat die Reserwebank die inflasieteikenband van 3% tot 6% asimmetries toegepas het. In plaas van die middelpunt van die teikenband (4,5%) is die effektiewe teiken in die boonste helfte van die teikenband gestel. Nir Klein, ‘n senior ekonoom by die IMF, het tot dieselfde gevolgtrekking gekom in ‘n IMF-besprekingsdokument wat in 2012 gepubliseer is. Hy het bevind dat die implisiete inflasieteiken oor tyd gewissel het en in die afgelope paar jaar na die boonste grens van die teikenband verskuif het. Hy kom dan tot die gevolgtrekking dat die Reserwebank sedert die aanvang van die finansiële krisis groter verdraagsaamheid getoon het wat betref hoër inflasie ten einde ekonomiese bedrywigheid beter te kan ondersteun.
2
Die meegaande grafiek toon dat kerninflasie (d.w.s. verbruikersprysinflasie sonder voedsel, brandstof en energie), wat dikwels as anker vir die besluite van die MBK dien, reeds vroeg in 2011 sy onderste draaipunt bereik en sedertdien ‘n byna ononderbroke opwaartse tendens getoon het hoewel dit binne die teikenband, dit wil sê onder 6%, gebly het. Myns insiens behoort monetêre beleid egter nie net op die vlak van inflasie te fokus nie, maar ook op die momentum.
Die verloop van die repokoers vergeleke met kerninflasie skep inderdaad die indruk dat die MBK in ‘n stadium fokus verloor het. Trouens, die repokoers is in Julie 2012 verlaag ten spyte van die volgehoue stygende momentum in kerninflasie. Die gepaardgaande verklaring van die MBK dui daarop dat hierdie besluit in hoofsaak deur internasionale gebeure gemotiveer is, met die MBK wat sy kommer uitgespreek het oor die risiko wat verwikkelinge in die wêreldekonomie (veral die Eurogebied) vir die plaaslike ekonomie inhou. Die doel van die koersverlaging was dan om verligting te bring vir sommige (ongespesifiseerde) sektore van die ekonomie.
Kortom, dit is myns insiens onwys om monetêre beleid te voer op ‘n grondslag waarvolgens daar slegs opgetree word indien daar ‘n wesentlike moontlikheid is dat die inflasiekoers vir ‘n langdurige tydperk die teikenband se boonste grens van 6% kan oorskry. Wat binne die teikenband gebeur, kan nie geïgnoreer word nie – dit sou ‘n effektiewe inflasieteiken van 6% impliseer en sou verder ook beteken dat wanneer beleid uiteindelik verstram word dit waarskynlik reeds te laat sal wees en beleidvormers onder druk sal plaas om die agterstand in te haal.
Daar is ook ‘n ander opsig waarin die MBK se verklarings van die afgelope paar jaar ietwat verwarrend is – nie vir wat dit gesê het nie, maar vir wat dit nié gesê het nie.
Die Reserwebank het die afgelope jare nie daarvan weggeskram om kritiese uitsprake te lewer oor ander beleidsake wat in mindere of meerdere mate met sy mandaat te make het nie. Dit is dus opvallend hoe min die MBK te sê gehad het oor fiskale beleid en hoe onkrities hy was wat die bestuur van die staatsfinansies betref − en dit terwyl die verhouding tussen fiskale beleid en
3
monetêre beleid veel nouer is en hulle aanvullend tot mekaar in die nastreef van makro-ekonomiese stabiliteit funksioneer.
Stellings oor fiskale beleid was gewoonlik niks meer as ‘n herhaling van die hoofpunte van begrotingsdokumente nie en die Reserwebank het fiskale beleid soos wat dit die afgelope vyf jaar gevoer is, oënskynlik ondersteun. Die stelling is byvoorbeeld herhaaldelik gemaak dat die geprojekteerde styging in die staatskuld-BBP-verhouding tot ongeveer 45% ruim binne die internasionale norm van 60% val, terwyl die aanvaarde norm vir opkomendemarklande 40% is (60% is die norm vir ontwikkelde lande).
Die regverdiging van die skerp toename in die staat se loonrekening as antisikliese beleid is in geen stadium gekritiseer nie. Daar is gereeld aandag gegee aan die inflasionêre implikasies van groot loonverhogings in die privaat sektor terwyl die demonstrasie-effek van die ruim loon- en salarisverhogings wat die staat toegestaan het op die res van die arbeidsmark nooit genoem is nie.
Dit is dus nie verbasend nie dat die MBK-verklaring waarin die rentekoersverhoging aangekondig is glad nie na fiskale beleid verwys nie. Myns insiens is dit ‘n ernstige leemte want dit gee nie aandag aan die vraag of die probleem by monetêre beleid of by fiskale beleid lê nie.
Sou ‘n verstramming in fiskale beleid, d.w.s. ‘n versnelde konsolidasie van die staatsfinansies, nie ‘n beter opsie gewees het as om rentekoerse te verhoog nie? Die argument dat so iets in ‘n verkiesingsjaar polities onmoontlik is, dra na my mening nie gewig nie – dit is hoog tyd dat gesonde ekonomiese beginsels voorrang geniet bo party-politieke oorwegings wanneer dit by ekonomiese beleid kom.
Verwysing:
Klein, Nir: Estimating the Implicit Inflation Target of the South African Reserve Bank. Working Paper no. WP/12/177. International Monetary Fund. Julie 2012.