Dok se Bioscope-span
Die berig in Matieland 2010:2 oor Dok Craven se 100ste verjaardagherdenking op 11 Oktober 2010, het Oudmatie Koos Ludick van SomersetWes se herinneringe laat terugdwaal na ’n stukkie Matie-rugbyvoortreflikheid waaroor hy erg trots is: die Maties se ‘Bioscope’-rugbyspan. Dié span is inderhaas in opdrag van Dok bymekaar geskraap en het 56 jaar gelede gesorg vir ’n merkwaardige hoogtepunt in die roemryke rugbygeskiedenis van die Maties. Koos was daardie dag losskakel en Hans Straeuli (oud-Blou Bulspeler en Rudolf Straeuli se pa) skrumskakel. Nadat hulle onlangs weer hieroor gesels het, het Koos aan Matielandvertel wat destyds gebeur het:
Dok se woorde: “Julle is my Bioscope-span, julle speel vir my, vat hulle,” weergalm na meer as vyf dekades nog in my ore. Dis soos gister dat hy dié besielende woorde aan ons gerig het.
Die aanloop hiertoe was ’n versoek van Durban Collegians, sterbelaaide kampioenspan van Natal, aan Dok om teen die Maties op Coetzenburg te speel – hulle het in April 1955 per skip Kaapstad toe gereis. Dit was universiteitsvakansie, net voor Paasnaweek, en verreweg die meeste spelers was weg, maar Dok, wat dit waarskynlik as ’n uitdaging gesien het, laat Collegians weet dis reg so – ’n Matiespan, nou wel nie die eerstespan nie, sal Paasmaandag teen hulle opdraf. Collegians het waarskynlik gedink dit gaan vir hulle ’n heerlike litlosmakertjie wees…
Die Vrydagaand loop Dok vir Hans Straeuli en wyle Gideon Huisamen (wat op sy dag vir Ikeys en Maties, asook die OP, gespeel het) by die ou Good Hopekafee in die dorp raak en sê hulle moet spelers soek om teen Collegians te speel. Gideon word summier as kaptein aangewys en Dok gee opdrag: “Julle moet Saterdagaand by die ‘bioscope’ (die ou Plaza) gaan soek, baie studente hang daar op die boonste balkon uit!”
Die Plaza (die ‘bioscope!’) het o.a. De Mist van Zyl, voorryman van die Maties se 5de span, opgelewer; ander spelers is by Tollies (bekende Matie-kuierplek van weleer), ’n kamp in die berge, enkele koshuise en ook Sondagaand by die Studentekerk opgespoor.
Laat Sondagaand, skaars 24 uur voor afskop, is die volgende span aan Dok voorgelê wat hy met huiwering aanvaar het aangesien heelwat van die spelers aan hom onbekend was: Roy Justus, Gaston Antelme, Billy Cooper, Cois Coetzee (oorlede), Jan Kitshoff, Koos Ludick, Hans Straeuli, Doon Marais (oorlede), Wittes Botha (oorlede), Gideon Huisamen (oorlede), Appies du Toit (oorlede), Okkie le Roux (oud-Springbok Ollie le Roux se pa), Willie Breytenbach (oorlede), Wouter Jordaan (broer van Tampan wat baie jare WP-haker was) en De Mist van Zyl.Van oefen vooraf was daar min sprake. Trouens, ’n meer onvoorbereide span sou mens ver na gaan soek, maar ons het oorgeborrel van geesdrif en jeugdelike voortvarendheid.
Toe Dok by die kleedkamer inloer en ons met bypassende handgebaar die volgende sterk woorde toevoeg: “Julle is nie die eerstespan nie, julle is my bioscope-span, julle speel vir my!” was dit vir ons ’n kwessie van dood of glorie en ons wou net op die veld kom!Die magtige Collegians van 1955 het hulle teen ’n onbeskryflik begeesterde saamgeflansde Matiespan vasgeloop en goed bloedneus gekry. Ons het 14–9 gewen en is luidkeels deur sowat 50 toeskouers ondersteun – Hans Straeuli het twee keer en Gaston Antelme een keer gedruk, en Roy Justus het die skoppe oorgeklits. Terloops, die ref was die bekende toetskeidsregter van destyds, Ralph Burmeister, soos altyd geklee in sy kenmerkende wit têkkies en WP-kouse.
Toe die eindfluitjie blaas, het Dok se oë erg geblink; hy was woordeloos, maar glimlaggend in sy skik. Van ons ouens het hom glo saggies hoor prewel: “My bioscopespan, wragtig, julle het dit gedoen!”Vir ons spelers was daar na die wedstryd onder die ou pawiljoen die gewone onthaal: koue ‘meat pies’ en warm Lion ‘Specials’ – en vir die ampsdraers ’n knerts met ys en water in Jannie Krige se sportkantoor.Dok, die oorblywende lede van die Bioscope-span eer jou nagedagtenis, ons salueer jou!
• Koos Ludick het van 1954 tot ’57 vir die Maties rugby gespeel. Hy is ’n oud-Dagbreker wat hoofbestuurder van die Noord- en Suid-Transvaalse streke van die SAUK was. Hy is getroud met Oudmatie Annette de Villiers wat in Huis Div was en hulle woon op Somerset-Wes.
Artikel : 2011:1 Matieland , ‘n Possak artikel gerig aan Matieland deur Koos Ludick.