Verstopte rioolpyp kelder besigheid

Soliede stukke vet is uit die rioolpyp deur werknemers van Lekwa munisipaliteit gehaal. Volgens wat van hulle afgelei word is hierdie nie die eerste keer dat dit gebeur nie en vind ook in die dorp by ‘n ander hoender wegneemete konsessie plaas. Teen druktyd was die spesifieke pyp reeds wéér tweekeer verstop gewees
STANDERTON – Toe personeel van TWK Toyota Donderdagoggend 7 Mei by hul werksplek opdaag, het hulle besef dat dit ‘n dag vol strooi gaan wees. Gedeeltes van die werkswinkel en die ontvangsarea waar klante hul voertuie vir versiening moet afgee, was letterlik enkeldiep in rou riool en die stank was ondraaglik.
Daar is inderhaas ‘n ander gedeelte in die werkswinkel ingeruim om rooigesig klante te ontvang. TWK Toyota bied dan ook hiermee hul opregte verskoning aan hul klante wat op so ‘n manier begroet moes word en verseker almal dat die probleem dadelik aangespreek is.
Werkers van Lekwa munisipaliteit was kort daarna op die toneel om die probleem op te spoor en dit het gou aan die lig gekom dat ‘n plaaslike hoender wegneemete konsessie die sondebok mag wees.
Die rioolpype is verstop deur vet wat in die pype beland en dan stol. Met die koue weer wat Standerton die laaste tyd beleef het, verstop die vet die pype baie vinniger en makliker as in die somer.
Volgens ‘n woordvoerder van TWK is dit ook nie die eerste keer wat dit gebeur nie en selfs ‘n naburige bandewinkel loop telkemale deur.
JD