Wind skrik skuts nie af
STANDERTON – Die Kosmos-tak van die SA Jagtersvereni-ging het Saterdag, 17 Januarie, ‘n skietdag op die Evert Genis-skietbaan aangebied. Altesaam 58 skuts het opgedaag en hulle nie laat onder kry deur die koue wind en weer nie.
Die sterk sy-wind het wel ‘n invloed op van die skuts se teikenplasing gehad en heelwat skote was mis. In die haelgeweer-afdeling het Francois le Roux met 14 uit 20 kleie, gevolg deur Johan Smit met 12 uit 20 kleie en Johan Geldenhuys met 12 uit 20 kleie geseëvier.
Die posliga – pistool-afdeling is deur Drian Podges met 176 uit 200 gewen, gevolg deur Ewald Eksteen met 169 uit 200 en Christo Bailey met 166 uit 200.
Toe daar op die rooibokteiken aangelê is sonder ‘n rus, het Ampie Cronjé met 42/45 die eersteplek geneem, gevolg deur Christo Bailey 40/45 en Jaco Booysen 39/45.
Johan Geldenhuys het gesorg dat die springbokteiken lood trek met 230/270, Francois le Roux is tweede met 200/270 en Drian Podges het die derdeplek met 170/270 geneem. JD