Volksrust eerstes ploeg met Standerton

Riekert Botha (regs) van Hoërskool Volksrust druk tydens Saterdag se wedstryd teen Stan¬derton altesaam vier drieë en behaal ook sukses met een doelskop. Volksrust se eerstespan het Standerton met ‘n eindtelling van 60-19 afgestof.
VOLKSRUST – Die eerste rugbyspan van Hoërskool Volksrust het die afgelope naweek ‘n pragoorwinning behaal oor Hoërskool Standerton. Die seuns het ongelooflike rugby gespeel, met geen tekort aan Volkie-moed nie. Riekert Botha druk nie minder as vier drieë nie en Henrico Nel het twee prag-drieë gedruk.
Ander drieë is deur Donell Griffiths, Alwande Sangweni, Michael Moore en SW van Wyk gedruk. SW slaag ook met twee doelskoppe, so ook Shane van Rooyen. Riekert Botha het ook gesorg dat een drie verdoel is.
Volksrust se derdespan het hul wedstryd teen Standerton met 36-5 gewen. Volksrust sal dié naweek teen Ligbron in Ermelo meeding.
JD





